GEORGE NUUS - 'n Inwoner van George en plaaslike atleet Lodelia Odendaal, het die vroueafdeling van een van die veeleisendste en uitmergelendste wedlope in Suid-Afrika, die Addo Elephant Trail Run gewen.
Die wedloop is oor 100 myl (163 km) beslis.
Benewens dat sy die eerste vrou oor die wenstreep was, het sy algeheel vierde klaargemaak. Om haar prestasie in perspektief te sien moet in gedagte gehou word dat 79 atlete ingeskryf het en net 45 klaargemaak het.
Twee van haar hardloopvriende wat ook van George kom, Eddie en Jacques Mouton het onderskeidelik 6de (26:30:32) en 7de (26:53:17) klaargemaak.
Die 37-jarige Odendaal het die wedloop, wat die naweek van 18 en19 Maart by Hayterdale, Addo plaasgevind het, in 25 uur en 5 minute voltooi. Atlete kry 37 uur om dit te voltooi.
Sy het Maandag aan George Herald vertel hulle het op Vrydag 18 Maart om 13:00 weggespring en aaneen gehardloop. Die naaste wat sy voor dit aan so 'n wedloop gekom het was 'n 110 km-wedloop. Sy het ook al twee keer die Comrades-maraton voltooi.
Sy het gesê dis 'n baie moeilike wedloop. "Dit stel baie meer sielkundige eise aan jou as fisies."
Eddie Mouton, Lodelia Odendaal en Jacques Mouton met die medalljes wat hulle verower het nadat hulle die Addo Elephant Trail Run voltooi het. Foto: Deidré Cloete
Atlete het geen helpers tydens die wedloop. Daar is wel kontrolepunte waar atlete voedsel en vloeistof kan inneem.
Sy gaan dit beslis weer doen in die toekoms. "Die adrenalien wat mens voel, is lekker."
Haar advies aan atlete wat dit aandurf is om baie goed voor te berei. Die sielkundige aspek is baie belangrik, "As jy sielkundig nie reg is nie, moet jy dit nie eers oorweeg want jy gaan dit nie maak nie."
Na die wedloop het sy nie blase op haar voete gehad nie en sy was ook nie styf nie.
Eddie het net lof gehad vir Lodelia. "Dis 'n ongelooflike prestasie wat sy behaal het."
Hy het al self 27 keer die Comrades voltooi. Altesaam 25 regte Comrades-maratons en twee amptelike virtual Comrades-maratons. Volgens hom is die twee wedlope nie regtig vergelykbaar. Hy het wel bygevoeg dat die Addo is baie erger as die Comrades.
Tydens die wedloop het hy onder meer 'n jakkals teëgekom. Volgens hom het dit tydens die Addo onder omstandighede redelik goed met hom gegaan.
Vir Odendaal en die Mouton-broers is sulke dinge natuurlik niks vreemds nie. Hulle het verlede jaar in April oor 'n paar dae die hoogte van Everest hier in George teen die Outeniquaberge kaf gedraf. Eddie het nadat hulle dit voltooi het dit weer aangedurf en voltooi. Dit het beteken dat hy "Everest" in bietjie meer as 72 uur twee keer uitgehardloop het.
Kort na die geleentheid verlede jaar het Lodelia die Montagupas per fiets uitgery.
Die drietal ken mekaar al meer as 20 jaar en deel 'n passie vir hardloop.
Eddie Mouton, Lodelia Odendaal en Jacques Mouton met die medalljes wat hulle verower het nadat hulle die Addo Elephant Trail Run voltooi het. Foto: Deidré Cloete
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'