GEORGE NUUS - 'n Leraar van die NG Moedergemeente, dr. Steve van der Walt, het die afgelope Sondag vir eers die preekstoel vir 'n fiets verruil toe hy die Kaapstad-fietstoer van meer as 100 km aangedurf het.
Hy het dit in 4 ure en 52 minute voltooi. Van der Walt was een van talle inwoners wat in Kaapstad aan die gewilde fietstoer deelgeneem het.
Die geleentheid is natuurlik vir hom niks vreemds nie want hy het dit Sondag vir die 22ste keer voltooi.
Vroeg Sondagoggend het hy en sy seun, Stèan saam met duisende ander deelnemers op hul fietse aangetree en die roete op die Kaapse Skiereiland aangepak.
Dit was die 11de keer dat Stèan die fietstoer voltooi het.
Van der Walt het Maandag aan George Herald vertel dat hy sedert verlede jaar deel is van die fietstoer se Club 21. Dit is vir mense wat al 21 keer die fietstoer suksesvol voltooi het.
Daar is net 'n bietjie minder as 3 000 mense wat dit al gedoen het. Hy het 'n spesiale nommer vir deelname aan die fietstoer naamlik 2790. Dit is gekoppel aan die hoeveelste persoon wat dit regkry.
Volgens hom was Sondag se fietstoer nat gewees. "Ek het nou alles beleef. Een jaar was baie winderig. 'n Ander keer was daar 'n hittegolf en afgelope Sondag was dit baie nat."
Hy het dit die eerste keer in 1998 gery. Sy plan was om die fietstoer agtereenvolgens te ry, maar dit was nie moontlik nie. Stèan en dr. Steve van der Walt Sondag kort voor die begin van die Kaapstad-fietstoer.
Hy was een keer siek en dit is ook een jaar nie aangebied nie as gevolg van Covid-19. Verlede jaar was vir hom baie spesiaal toe hy die 21 merk bereik het. "Ek het verlede jaar 51 geword."
Hy geniet die fietsryery en sal mense aanmoedig om aan die fietstoer deel te neem. Hy waarsku egter mense moet vooraf oefen en nie dink dit is net 'n kwessie van opdaag nie.
Volgens hom is die Kaapstad-fietstoer baie spesiaal. Dit gaan deur 'n baie mooi deel van die land en dit is baie goed georganiseer. Voorts is dit spesiaal omdat hy dit saam met sy seun kan doen.Dr. Steve van der Walt met die trui wat hy mag dra omdat hy al 21 keer die Kaapstad-fietstoer voltooi het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'