GEORGE NUUS - Altesame 130 skuts het onlangs by Louvain aan die Eden Ope van die Suid-Afrikaanse Jaggeweerskietvereniging (SAJSV) deelgeneem.
Kloppers het die ope met R120 000 geborg.
Die kompetisie het, volgens die voorgeskrewe formaat, bestaan uit twee ghongbane, waar skuts skiet oor onbekende afstande wat wissel van 150 m tot 400 m na ronde staalskywe, en vier papierteikenbane waar daar geskiet word na lewensgrootte papierteikens van onder andere blesbokke, springbokke, vlakvarke en rooibokke.
'n Omgekrapte wind het die skuts se vernuf deeglik getoets.
Twee Georgiete, Renier van Greunen en Freek Zeelie, was die Suid-Kaap se toppresteerders en het onderskeidelik vierde en vyfde geëindig.
Met 'n moontlike voltelling van 900, was die dag se toptelling van 771 deur Fred Danzfuss van die WP geskiet. Juanita van Zyl van Oudtshoorn het tweede gekom in die afdeling vir vroue.
In die afdeling vir juniors het die Eden-skut Manus Moolman die tweede plek losgeskiet terwyl Eden se toppresteerder in die penkopklas (jonger as 14) Emile Goedhals met 'n tweede plek was.
Die Georgiet Renier van Greunen (links) was algeheel vierde. Hier wens Jimmy Farnham, nasionale voorsitter van die SA Jaggeweerskietvereniging (SAJSV), hom geluk met sy puik prestasie.
SWD se topskuts - Jaco Brink, Valie Enslin, Christo Delport, Jacques du Plooy en Renier van Greunen - het daarin geslaag om die spanne van Boland en WP te klop en het sodoende weggestap met die trofee vir die topspan in die Kaap-area.
In die afdeling vir juniors het die Eden-skut Manus Moolman (middel) die tweede plek losgeskiet.
Die Eden-tak van SAJSV het hul opregte dank uitgespreek teenoor Kloppers vir hul ruim ondersteuning om dié dag weer baie suksesvol te kon aanbied.
Emile Goedhals was Eden se toppresteerder in die penkopklas (jonger as 14) met 'n tweede plek. By hom staan Jimmy Farnham, nasionale voorsitter van die SA Jaggeweerskietvereniging (SAJSV).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'