Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Was dit nie vir 'n kramp in sy dyspier nie, kon Pacaltsdorp se eie rysige langasem, Lloyd Bosman (36), perdalks die Totalsports Two Oceans-ultramarathon in Kaapstad vanjaar gewen het.
Bosman, wat verlede jaar 12de in dié marathon geëindig het, het vanjaar die wedloop van 56 km in 'n tyd van 3:09:58 kaf gedraf, kort op die hakke van die 27-jarige wenner, Onalenna Khonkhobe (3:09:30).
Givemore Mudzinganyama van Zimbabwe, die verdedigende kampioen, het sowat twee minute na die eerste twee oor die wenstreep gedraf.
Die wedloop het gedurig van voorlopers gewissel, en dit was eers in die laaste 3 km dat Bosman en sy Nedbank-spanmaat, Khonkhobe in 'n verbete stryd betrokke geraak het. Met omtrent 1 km oor, en Bosman wat met krampe gesukkel het, het Khonkhobe weggebreek en die eindstreep oorgesteek.
"Na Constantianek het ek weggebreek en die ouens agtergelos," vertel Bosman. "Toe begin 'n klein kramp in my dyspier. Ek het stadiger gehardloop om die kramp uit my bene te werk, maar hulle [ander atlete] het my steeds nie ingehaal nie. Ek het toe besef dat hulle regtig moeg was," vertel Bosman.
Die stryd met Khonkhobe het volgens Bosman op sowat 53 km van die wedloop begin toe Khonkhobe hom ingehaal het en Bosman, wat steeds met krampe gesukkel het, 'n moeilike besluit moes neem.
"Ek kon kies om teen hom te baklei tot die einde en die kans waag om 'n paar plekke te verloor, óf 'n bietjie terug te hou en eerder my tweede plek te verseker."
VIDEO: Lloyd Bosman talks to Group Editors about his race at the Totalsports Two Oceans Marathon
Bosman en sy tribe
Sedert Oktober verlede jaar oefen Bosman en 'n groep vriende, onder andere Elroy Galant, wat hy sy tribe noem, twee keer per dag.
"Ons het onsself ses maande gegee en geoefen vir 10 km, 21 km en die ultra. Ons het geweet wie hardloop almal die Two Oceans, so ons moes aanhoudend improviseer en het gefokus om vinniger en sterker te word," sê Bosman.
"Die tribe is vir my besonders. Dit was nie ses maande van happy days nie. Ons het nie al die geriewe in Pacaltsdorp nie, maar ons werk met wat ons het. Ek weet ná hierdie naweek sal mense besef Pacaltsdorp het een van die beste hardloopgroepe in die land. Dit gaan nie nét oor talent nie, dit is die deurslaggewende dissipline in ons tribe wat ons suksesvol maak."
Hoewel hulle reeds vir 2025 se Two Oceans oefen, is die volgende wedlope waarna Lloyd uitsien die Rhodes Wellington-halfmarathon en die Nelson Mandelabaai-halfmarathon. Nog wedlope op sy 2024-lysie is die Knysna Forest Marathon en Meiringspoort. "Ek wil ook graag vanjaar na Bredasdorp gaan om aan die Voet van Afrika-marathon deel te neem," glimlag Bosman.
Lloyd Bosman (derde van regs) en sy tribe van Pacaltsdorp, soos hy hulle noem, oefen twee maal per dag in die reën of die sonskyn. Van links is Davian Johan Jacobs, C-Jay Hardnick, Selwyn Matthews, Bruce Maboza en EJ Pieterse. Foto: Kristy Kolberg
Interessante feite
- Net meer as 12 000 atlete het vir die 56 km-wedloop ingeskryf
- 'n Totaal van 16 000 atlete het vir Sondag se halfmarathon ingeskryf. Daarvan was 9 281 was vroue
- Die eerste groep atlete spring al om 05:15 weg.
- Gerda Steyn het haar vyfde agtereenvolgende oorwinning in die ultramarathon behaal.
- Khonkhobe is die eerste Suid-Afrikaner sedert 2019 om die manswedloop te wen.
Bosman (tweede van links) saam met 'n groep atlete kort na die wegspring. Foto: Tobias Ginsberg, Totalsports Two Oceans Marathon
Lloyd Bosman (tweede van regs) en sy 'tribe' van Pacaltsdorp, soos hy hulle noem. Die groep oefen elke dag in die reën, hael of sonskyn. Van links is Selwyn Matthews, Bruce Maboza, C-Jay Hardnick, EJ Pieterse en Davian Johan Jacobs. Bosman inspireer die jongspan en klein Ryan Hendricks het besluit om 'n paar meter saam met hulle te draf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’