GEORGE-NUUS - Die Suid-Kaapse Rots en Strand Kus-hengel se twintigste jaarlikse prysuitdeling is in George gehou waar die gasheerklub, Atlantic Hengelklub, toevallig ook as die klubkampioene van die jaar aangewys is.
Hennie Kleyn, ook van Atlantic, is as sportman van die jaar gekroon terwyl René Pautz van Knysna as die sportvrou van die jaar aangewys is.
Knysna en Outeniqua was onderskeidelik 2e en 3e.
Die B- en C-liga is onderskeidelik deur George en Weermag gewen.
Die trofee vir die grootste eetbare vis het aan Mathew Sumner gegaan vir sy kabeljou van 47kg, wat ook suksesvol vrygelaat is.
Die trofee vir die grootste nie-eetbare spesie is aan W Erasmus toegeken vir sy skeurtandhaai van 177kg.
Byna 200 hengelaars en vroue het die funksie bygewoon. Die Suid-Kaap bestaan uit 8 hengelklubs wat al oor en oor bewys het dat die manne daarop ingestel is om hengel gesond te hou en die visbronne, wat reeds onder druk is, vir die nageslag te bewaar.
Die nie-eetbare visspesies word almal met sorg teruggeplaas in die water en daar word ‘n trofee uitgeloof vir die klub wat die meeste eetbare vis terugplaas.
Almal is deeglik bewus dat alle visbronne onder geweldige druk is en dit maak hierdie vorm van sport net soveel meer besonders. Elke hengelaar is dit eens dat wanneer hy of sy die vis suksesvol kan terugplaas, dit die genot van die ervaring net meer versterk.
Die aand, wat deur Jenny de Oliviera van No Red Herrings gereël is, is begin met ‘n skyfievertoning van al die goue oomblike langs die water en terwyl die manne en vroue die ‘monsters’ van die blou dam bewonder het, is daar lekker geproe aan die spesiale drankies.
Die president van Suid-Kaap Kushengel, Johan Strauss, het in sy toespraak melding gemaak dat die Suid-Kaap-hengelaars jaar na jaar hulle al bewys het as meesters in die sport. Die streek spog hierdie jaar reeds met meer as 7 Springbokke.
Sien nog foto's hier: http://www.georgeherald.com/gallery.aspx?gpid=77&gid=6