GEORGE NEWS - Vir die eerste keer in die Outeniqua-juniortoutrekklub se geskiedenis kon hulle vanjaar ses spanne na die SA kampioenskappe neem.
Tydens die kampioenskappe, wat Vrydag 20 en Saterdag 21 Maart in Robertson plaasgevind het, het daar 405 spanne met meer as 1 600 atlete aan 'n intense stryd in een van die grootste skolesportgeleenthede in Afrika deelgeneem.
Die klub se resultate was indrukwekkend.
Hul 340 kg-meisies bring goud huis toe, die 360 kg-A-span behaal 'n vierde plek uit 28 spanne en die 280 kg-gemengde span palm 'n bronsmedalje in.
Die klub het hul dank teenoor hul afrigtingspan, Kittie Terblanche, Tienie Gerber en Conrad Brooks uitgespreek.
Die spanne moes almal op Donderdag 19 Maart inweeg om seker te maak die gewig van elke trekker is reg sodat die span wel inweeg onder die groepsgewig waarvoor hulle ingeskryf is.
Die 280 kg-gemengde span het brons gewen. Saam met hulle is al drie hul trotse afrigters.
Die 340 kg-meisies wen goud. Saam met hulle is hul afrigters Tienie Gerber (links agter) en Conrad Brooks.‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’