GEORGE NUUS - Van George tot die wêreldverhoog. Kittie Terblanche (45) het Saterdag 19 September 'n nuwe hoogtepunt in haar merkwaardige toutrekloopbaan bereik toe sy as die Internasionale Toutrekfederasie (TWIF) se vroue-atleet van die jaar aangewys is.
Die George-ma van twee is tydens die wêreldtoutrekkampioenskappe, wat van 16 tot 19 September by die ATKV Hartenbos-amfiteater plaasgevind het, met die gesogte individuele eerbewys vereer.
Suid-Afrika het die kampioenskappe met nege goue medaljes afgesluit, terwyl Terblanche, ná 'n openbare stemproses, as TWIF se vroueatleet van die jaar aangewys is.
Terblanche moes eers deur SA toutrek se nominasieproses gaan voordat sy as Suid-Afrika se kandidaat vir die internasionale toekenning voorgelê is.
"Ek was een van die genomineerdes en toe die wenner van SA toutrek. Daarna is ons weer by TWIF genomineer van SA se kant en toe moes almal gaan stem en like," verduidelik sy.
Sy moes ook haar volledige sport-CV saamstel om vir die toekenning in aanmerking te kom.
Die erkenning is die jongste hoogtepunt in 'n internasionale loopbaan wat reeds wêreldklub-, wêreldkampioenskap- en Wêreldspele-medaljes insluit.
"Dankie vir julle, want sonder al my ondersteuners sou hierdie nooit gebeur het nie. Dis die grootste erkenning vir my. Dit is die grootste eer vir my en vir SA Toutrek," het Terblanche ná haar oorwinning gesê.
'n Dekade van internasionale prestasies
Terblanche se internasionale loopbaan sluit verskeie bronsmedaljes by wêreldkampioenskappe en die Wêreldspele sedert 2011 in. Sy was van 2011 tot 2024 deel van die Suid-Afrikaanse nasionale span, het daarna 'n blaaskans geneem om haar kinders groot te maak en in 2024 teruggekeer na internasionale toutrek.
Vanjaar het sy Suid-Afrikaanse kampioen in die 500 kg- en 540 kg-vrouekategorieë geword en was sy deel van die Eden-span wat goud in die 540 kg-afdeling verower het.
Sy speel ook 'n aktiewe rol in die ontwikkeling van die sport as kommunikasiebeampte van die SA toutrekfederasie en atleetverteen-woordiger by Sascoc.
Haar jongste prestasie voeg nou TWIF se Vroue-atleet van die Jaar-titel by haar indrukwekkende loopbaan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’