GEORGE NUUS & VIDEO - ‘n Karnaval atmosfeer heers by die George Tens Sport en Leefstylfees. Dit is vandag die derde dag van die geleentheid.
Die fees het Donderdag 2 Desember afgeskop en vandag se aktiwiteite vind plaas by Outeniquapark en omliggende gebiede. Daar word meegeding in rugby, netbal, gholf en rolbal. Seuns, dogters, mans en vroue van alle ouderdomme is betrokke.
Die rolbal word digby die stadion gespeel en dit was al van vroeg duidelik dit is ernstige sake as die balle gerol word.
Heyneke Meyer, ‘n voormalige afrigter van die Springbokrugbyspan en Ig van der Merwe, wat al vir die SWD-Arende uitgedraf het, is die twee organiseerders. Hulle word bygestaan deur ‘n span.
Talle bekende bekende oud-Springbokrugbyspelers, waaronder Victor Mattfield en Anton Leonard, is by die toernooi. En natuurlik ook een van die bekendste Springbokke van alle tye, Danie Gerber. Hy rig een van die spanne af.
Janneman Stander, 'n voormalige kaptein van die SWD-Arende speel ook vir een van die spanne. Volgens hom geniet die spelers dit en het George so 'n geleentheid nodig.
Daar is aangename kompetisie tussen die spelers.
Leon van Wyk, George se burgemeester en sy eggneoot, Gail het vanoggend ‘n draai by die geleentheid gemaak. Van Wyk het gesê "dis ‘n wonderlike geleentheid wat groei. Dit bied vir mense geleentheid om te sosialiseer en sport te geniet."
Daar is spanne van regoor Suid-Afrika wat aan die verskillende sportsoorte deelneem.
Volgens Van Wyk speel Meyer ‘n groot rol in die geleentheid. Hy sê die geleentheid is ‘n fantastiese geleentheid in terme van die plaaslike ekonomie te stimlueer. "Dit lok toeriste en besoekers. Dit help om die ekonomie te laat herstel na die moeilike tye wat beleef is." Van Wyk sal graag wil sien dat die geleentheid weer aanstaande jaar plaasvind. Dit kan ‘n jaarlikse geleentheid word.
Van der Merwe, wat tussendeur alles nog kans sien om self in 'n paar van die wedstryde te speel, het gesê die geleentheid is baie suksesvol. “Ons moet getalle beheer as gevolg van die Covid-19 regulasies en onder omstandighede gaan dit baie goed.”
Hy het gesê môre vind onder meer die finale wedstryde van die rugby plaas en toeskouers is steeds welkom. Mense moet hulle nie laat afskrik deur die reën wat voorspel word nie. Daar is genoeg onderdak geriewe.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'