Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Kaiden Steyn (15) van George kan met reg daarop aanspraak maak dat hy vierde fiksste seun in sy ouderdomsgroep in die wêreld is.
Hy het onlangs aan die CrossFit Games in Madison (Wisconsin) Amerika deelgeneem en toe die besondere prestasie behaal.
Vrydag 12 Augustus was hy terug op Suid-Afrikaanse bodem en minder as 48 uur later was hy weer aan die oefen.
Dinsdag, te midde van 'n veeleisende oefen-program, het hy tyd ingeruim om met George Herald te praat.
Voordat hy in Amerika kon gaan deelneem moes hy eers kwalifiseer. In Maart/April het hy aan die opeafdeling deelgeneem. Alles het aanlyn plaasgevind en hy moes onder meer video's instuur. Hy het 35ste in die wêreld klaargemaak en 1ste in Afrika. Die eerste 200 het gekwalifiseer vir verdere deelname.
In April het die kwarteindronde plaas-gevind en hy het die 17de plek behaal. In Junie het die halfeindronde gewag. Die toptien het gekwalifiseer en Kaiden het die knoop deurgehaak toe hy 9de klaargemaak het.
Volgens hom was die kompetisie in Amerika omvattend en veeleisend. Deelnemers het nie vooraf geweet in wat hulle getoets gaan word nie.
In die kompetisie word aandag gegee aan onder meer Olympic Weight Lifting (snatch, clean, jerk), gimnastiek (liggaamsgewigoefeninge soos opstoot, optrek, touklim) en hoë-intensiteit kardiovaskulêre oefeninge soos hardloop, fietsry, roei en touspring.
Dit was die eerste keer dat hy fisies van aangesig tot aangesig teen ander deelnemers meegeding het en dit was ook die eerste keer dat 'n Suid-Afrikaner in sy ouderdomsgroep deelgeneem het. Die kompetisie is oor drie dae beslis.
Hy het in 2018 aan die sport begin deelneem en baie daarvan gehou. Hy het voorheen rugprobleme gehad en die sport het met herstel en goeie ontwikkeling gehelp.
Hy het dit as harde werk beskryf. Hy oefen sowat twee ure per dag en geniet dit baie.
Dit is een van die vinnig groeiendste sportsoorte in die wêreld en hy wil daarmee aanhou.
VIDEO: Kaiden weet van fiks wees
Sy ma, Renet, het vertel dat Kaiden 'n baie gebalanseerde lewe het. Dis nie net sport nie, hy is ook baie betrokke in die gemeenskap. Hy is onder meer betrokke by hul kerk, Every Nation Eden, se jeuggroep. Voorts bedryf hy en sy sussie, Chara 'n aanlyn klerebesigheid.
Renet het benadruk sonder die hulp van die gemeenskap sou Kaiden nie die prestasie kon behaal nie.
Sy het ook verwys na die groot rol van Jan Fourie, biokinetikus, eienaar en hoofafrigter van Wings Elite Fitness.
Kaiden Steyn (15) voor die gimnasium waar hy oefen. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'