Vanjaar se kliniek het van 8 tot 11 Julie plaasgevind en word gehou om jongmense wat in die jagbedryf belangstel, te bemagtig om eties korrek op pad na en in die jagveld op te tree.
Hierdie groep kursusgangers was die eerste groep studente wat die nasionaal erkende CHASA-kursus deurloop en suksesvol afgelê het.
Aangesien hierdie aktiewe vereniging al vir die afgelope 16 jaar sodanige opleiding aanbied, is die SJB genader om leiding te neem met die daarstel van opleidingsmateriaal wat nasionaal deur jagtersverenigings gebruik gaan word.
Die persoon wat aan die spits van die saamstel van dié kursusse staan, is Neels Meyer, voorsitter van die SJB.
Hy het ‘n span saamgestel wat onderwerpe en aktiwiteite moes identifiseer wat sinvol, prakties en met oorgawe aan die jong jagters oorgedra kon word.
Hierdie handleiding is ook reeds aan ander jagtersverenigings beskikbaar gestel.
Die doel van die kursusse is om diegene wat tot die jagsport wil toetree met die nodige kennis en toewyding voor te berei om etiese jag te bevorder, die beeld van die jagter uit te bou, die natuur te waardeer en te bewaar en om die hand van die Skepper in alles om ons te sien en te ervaar.
Kursusse wat aangebied word, is ‘n naweekveldskool vir laerskoolleerders, driedagskietopleiding opgevolg met ‘n agt dae jagopleiding asook mentorjag om alles af te rond.
Die groep studente wat die afgelope skietopleidingskursus deurloop het, kwalifiseer vir die Junior Jagopleidingskursus wat gedurende die 2011-wintervakansie in die Kalahari aangebied gaan word.
Evaluasie van die student se belangstelling, verantwoordelike optrede, leierseienskappe en vordering ten opsigte van praktiese skietvaardighede vind deurlopend plaas.
Die kursus is afgesluit met die praktiese skiettoets op die rooibokteiken waarvoor die voorgeskrewe slaagsyfer 77% is. Die studente het 'n gemiddeld van 86% behaal, wat van deeglike opleiding getuig.
Elke dag is afgesluit met ‘n warm stort, Johan Lindeque se aandetes uit die boonste rakke, evaluasie van die dag se gebeure deur Alvin Hayes en Mike Huber, kampvuurstories, lekker saamsing onder kitaarbegeleiding deur Dirk Black en sy seun Dirk jr. en aandgodsdiens met ‘n deurlopende tema, aangebied deur Elma Meyer.
Vir meer inligting rakende dié kursusse, kan Neels Meyer by 082 8248 603 geskakel word.
Instrukteur Mike Huber maak die studente touwys met die jaggewere.
Instrukteur Mike Huber maak die studente touwys met die jaggewere.