Video
ROLBAL NUUS EN VIDEO'S - 'n Plaaslike rolbalspeler, Johlene Bronkhorst het verlede naweek (17,18 en 19 Maart) in Kaapstad, een van die topprestasies in Suid-Afrikaanse rolbal behaal toe sy teen die verwagting in die SA meestersvroue-afdeling gewen het.
Wat haar prestasie nog meer besonders maak, is dat dit die eerste keer was dat sy aan die toernooi deelgeneem het en boonop verskeie Protea-spelers uitgestof het.
Spelers kan slegs op uitnodiging van SA Rolbal aan die toernooi deelneem. Die 53-jarige Bronkhorst is verbonde aan die George-rolbalklub en speel onder die vaandel van Eden.
Sy het sowat 20 jaar gelede in Groot-Brakrivier sosiaal begin rolbal speel en neem sedert 2009 mededingend deel. Sy het by die George-rolbalklub aangesluit en het plaaslik groot welslae behaal, sy was onder meer al drie keer Eden se vrouemeesterskampioen.
Haar ouers het ook rolbal gespeel en haar ma, Minette Robertson, het in die verlede ook aan die SA meesterstoernooi deelgeneem.
Johlene Bronkhorst Dinsdag met 'n rolbal waarmee sy gewoonlik speel. Foto: Eugene Gunning
Die afgelope naweek se geleentheid het by die WP-krieketklub plaasgevind. Suid-Afrika se rolbalspelers van die onderskeie distrikte het daar saamgetrek. Onder hulle was Colleen Piketh.
"Om bloot daar te kon deelneem was al iets besonder," het sy Dinsdag vertel. "In my wildste drome het ek nooit gedink ek sou wen nie. Ek is nog steeds geskok."
Die eindronde is Sondag gespeel. Daar was twee afdelings van agt spelers elk. Dit beteken 16 vroue het meegeding.
Voordat sy in die eindronde deelgeneem het, het sy aan sewe wedstryde deelgeneem waarvan sy ses gewen het.
In die eindronde het sy teen Anneke Snyman, 'n Protea-speler, te staan gekom. Dit was 'n moeilike wedstryd en die winderige weer was 'n uitdaging.
Snyman het die eerste stel maklik gewen, maar dit het Bronkhorst nie afgesit nie. "Ek het net begin fokus." In die tweede stel het dit beter gegaan en sy het dit gewen. Toe is in drie koppe beslis wie die kampioen sou wees met Bronkhorst wat die knoop deurgehaak het. "Ek was in ekstase."
Sy het hulde gebring aan Elma Davies, 'n vriendin wat in 2019 oorlede is. Davies was 'n Protea-speler en het 'n groot rol in Bronkhorst se rolballoopbaan gespeel, sy het baie by haar geleer.
Volgens Bronkhorst sal sy nog so lank as wat sy gesond is wil speel. "As die gogga eers gebyt het, is dit baie lekker."
Sy glo enigiemand kan rolbal speel. Dit help wel as 'n persoon natuurlike talent het. Sy beoefen 'n voltydse beroep en naweke is sy by rolbal betrokke. Daar is dus nie veel tyd vir ander dinge nie.
VIDEO: So doen mens dit
VIDEO: Johlene is die vroue rolbalkampioen
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’