GEORGE NUUS - Die 84-jarige roeier van George, Jannie Malherbe, is teen dié tyd al sinoniem met die Bergrivier-kanomarathon.
Hy is die oudste voltooier van dié wedvaart en het op Saterdag 6 Julie sy 51ste Bergrivier sonder moeite aangepak.
Malherbe is nou die eweknie van wyle Giel van Deventer, die man wat die meeste Bergrivier-kanomarathons voltooi het. Van Deventer is in 2022 oorlede.
"Dit is 'n besondere prestasie en ek wens oom Jannie geluk met sy merkwaardige toewyding tot roei. Ek is veral geïnspireer deur sy liefde vir die sport en die vreugde wat hy kry om op die rivier te wees," het Ricardo Mackenzie, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, gesê.
Malherbe is 'n legende wat reeds in 1962 aan die eerste Bergrivier deelgeneem het en dit daarna boonop drie keer gewen het. Hy is ook 'n Springbok-kanovaarder met verskeie titels op sy kerfstok.
"Die Bergrivier is elke jaar anders. Elke jaar is 'n nuwe avontuur," sê Malherbe. "Maar moenie nou vir my vra of ek volgende jaar weer gaan deelneem nie. Vra my oor ses maande. Vir nou rus ek eers," skerts hy.
Malherbe sê vanjaar was die roei-toestande die eerste dag baie moeilik. "Daar was 'n bitter sterk wind, reën en koue. As jy dan omval, neem dit jou 'n hele paar minute om weer uit te kom en dit verbrand baie energie. Die tweede dag was makliker."
Die Bergrivier vind oor 'n afstand van sowat 240 km plaas, en strek oor vier dae vanaf die wegspring in die Paarl tot dit in Velddrif eindig. Malherbe kon ongelukkig teen druktyd nie bereik word vir kommentaar nie.
Jannie Malherbe (84) saam met Ricardo Mackenzie, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’