GEORGE NUUS - Internasionale blootstelling in die voorhuise van miljoene televisiekykers wêreldwyd wink vir George danksy moontlike groot sportgebeurtenisse in die stad in die volgende paar jaar.
George-burgemeester, Leon van Wyk, het onlangs tydens 'n netwerkgeleentheid van die George-sakekamer, verwys na beweging op ekonomiese en toerisme gebied.
Hy het toe aangedui dat die munisipaliteit die afgelope tyd drie navrae gehad het van sportkodes wat drie internasionale sportgeleenthede in George wil aanbied. As dit realiseer, kan dit televisieblootstelling vir George beteken.
Van Wyk het Maandag by navraag aan George Herald benadruk dinge is nog in 'n vroeë stadium en wanneer dit finaal gefinaliseer is, sal meer besonderhede bekendgemaak word.
Een van die sportkodes wat belangstel is sogenaamde Ultra Trail MUT. Die Suidelike-Afrika verteenwoordiger van die Ystermankompetisie het hom genader oor die moontlike aanbied van 'n Ultra Trail geleentheid in George as deel van die Wêreldreeks.
Die plan is om een so 'n geleentheid op elke vasteland te hou. In Afrika word na George gekyk.
Die plan is om dit in 2023 aan te bied. Verkennende gesprekke het reeds plaasgevind en nog sal plaasvind. Daar is ook reeds met die Wes-Kaapse provinsiale regering kontak gemaak.
Die organiseerders wil 'n ooreenkoms vir drie jaar sluit en as dit gebeur sal die geleentheid sowat 1 500 deelnemers van oor die wêreld lok. Die wedloop sal oor 'n afstand van sowat 160 km in die Outeniquaberg beslis word.
Verteenwoordigers van pensteek het ook kontak gemaak. In die verlede was dit bekend as gimkana en word deur perderuiters en perde beoefen.
Die plan is om die Wêreldbeker van die sport moontlik in die tweede helfte van aanstaande jaar hier aan te bied.
In die aanloop is daar meer as 50 lande wat aan uitdunne op verskillende plekke deelneem en nege lande neem dan aan die eindronde deel wat moontlik in George sal plaasvind.
Daar is ook die moontlikheid om 'n groot internasionale tennistoernooi in 2025 in George op kleibane aan te bied.
Voorts is gesprekke oor die moontlike aanbied van 'n internasionale gholftoernooi aan die gang.
Van Wyk het gesê al die dinge pas in by George se planne om groot sportgeleenthede na die stad te lok en om onder meer die handelsmerk van George aan 'n internasionale gehoor te bemark.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'