GEORGE-NUUS - Met slegs twee rondes oor is die Incredibles die nuwe voorloper in die Brandhouse Rolballiga wat weekliks by die Outeniqua Rolbalklub plaasvind.
Hulle het ‘n einde gebring aan Glen Haven se onoorwonne rekord toe hulle die vroeë voorlopers met 13-5 verslaan het. In die proses het hulle ook verseker dat hulle slegs een van drie onoorwonne spanne in die toer-nooi is.
Op 48 wedstrydpunte is hulle slegs 3 punte voor die Run Away Come Backs (op 45) wat in ‘n verbete stryd met 16-6 met Waltons afgereken het.
Waltons, ‘n eerste inskrywing tot die sosiale liga, het gevolglik ook sy eerste wedstryd verloor en tot die 8e algehele plek teruggesak.
Die derde plek behoort tans aan Balls Up, wenners van die Somerliga, wat oor die volgende twee rondes hul alles sal gee om ook as die Winter-kampioene gekroon te word.
Hulle is slegs 6 punte agter die voorlopers en ‘n oorwinnning in die voorlaaste ronde is ‘n moet om hul kanse lewendig te hou.
Die borgspan, Brandhouse 2, het in ‘n verrassing redelik maklik met die MeyerOtto Strikers afgereken. Die telling was 13-6 in Brandhouse se guns en hulle het na die algehele 6e plek opgeskuif.
Twee spanne, die Oubaai Manne en FNB(A), het hul eerste oorwinnings behaal. Die Oubaai Manne het verspot maklik met 19-3 teen FNB(B) gewen terwyl FNB(A) op sy beurt naelskraaps met 13-11 teen KGB koning gekraai het.
Die voorlaaste ronde van hierdie gewilde toernooi vind vanaand (20 Mei) by die Outeniqua Klub plaas.
Spannende wedstryde word veral verwag wanneer die Incredibles teen die Run Away Come Backs te staan kom. Die wenner van hierdie wedstryd sal die laaste ronde van die kompetisie as gunsteling ingaan.
Balls Up sal teen Russel Rich te staan kom terwyl Glen Haven vir Brandhouse die stryd aansê.
Laasgenoemde vier spanne veg vir ‘n plek in die top drie wanneer die liga op Donderdag 27 Mei ten einde loop.
Alle ondersteuners en belangstellendes is welkom om die oorblywende rondes te ondersteun.
Vir inskrywings in toekomstige ligas, skakel Jaco Visagie 082 453 4465 of Philip Hattingh 044 873 5785.