Gallery
GEORGE ROLBALNUUS - Terwyl talle rolbalklubs landwyd spook om kop bo water te hou het die Outeniqua-rolbalklub die enigste klub in 'n lang tyd geword wat nog 'n nuwe en derde baan moes aanbou om die klub se groei verdere stukrag te gee.
'n Nuwe era is vir die klub ingelui toe Eden-rolbalpresident Jenny Sinclair, verlede Dinsdag die lint geknip het om die baan se amptelike opening te simboliseer.
Die baan, wat die naam van Greg Young, huidige klubpresident en 'n man wat bloed gesweet het om die peperduur baan 'n werklikheid te maak dra, gaan vir die eerste keer amptelik gebruik word tydens die volgende reeks besigheidsliga-wedstryde wat op 25 April afskop.
Die grondwerke aan die baan het meer as 'n jaar gelede begin en kon danksy verskeie borge, waarvan Kirsten & Tulleken Vervoer en K1 Quarries die grootste was, voltooi word.
Sinclair het in haar kort boodskap gesê dat hierdie 'n bewys is dat rolbal as sport steeds groei en veral op die platteland bloei. Sy het ook die Outeniqua-rolbalklub gekomplimenteer met hul prestasie en die feit dat hulle die sport deurgaans passievol dien.
Ds Ferdie Nortje, wat die seremonie geopen het, staan hier regs saam met sy eggenote Marina by die vise-president van die klub, John Dampier en sy eggenote, Joey.
Na die knip van die lint het André Tulleken van Kirsten & Tulleken Vervoer en Christo Pieterse van K1 Quarries die eerste balle op die lowergroen baan gerol. Daarna het die glasies vonkelwyn op die klub se voorspoed geklink.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'