SUID-KAAP NUUS - Danksy een van die grootste borgskappe tot dusver in Suid-Afrikaanse skietgeskiedenis kan die Eden-jaggeweerskietverening op Saterdag 2 September die eerste groot skietbyeenkoms by Louvain-gasteplaas aanbied.
Safari Outdoor se borgskap sluit pryse van meer as R300 000 in.
Spanne van vier kan inskryf vir dié geleentheid. Skuts gaan op 30 staalplate skiet wat versprei is oor ses verskillende bane oor onbekende afstande wat sal wissel van 150 m tot 400 m. Die byeenkoms begin stiptelik om 09:00, maar skuts sal hul gewere vooraf kan inskiet.
Die bane se uitleg sal so gedoen word om tipiese jagsituasies na te boots. Skuts kan verwag om oor rotse, boomstompe, driepootstokke en kontoerwalle aan te lê. Spanlede kan saamwerk met die afstandskatting en onderling bepaal wie die beste uit die moontlike sit-, staan- of lêposisie vir 'n span sal presteer.
Spanne kan in twee klasse meeding: hardebaarde vir die meer ervare skuts; en melkbaarde vir meer sosiale skuts.
Die dag word afgesluit met 'n prysuitdeling en aansitete by Louvain.
Inskrywings is reeds van sover as Gauteng, Natal en die Vrystaat ontvang. Inskrywings sluit op Maandag 28 Augustus.
Die inskrywingsgeld beloop R1 900 vir 'n span van vier en sluit drie etes in.
Vir enige navrae bel Jacques du Plooy by 082 940 0789 (jduplooy@telkomsa.net) of Renier van Greunen by 082 444 4069 (bwhouse@mweb.co.za).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'