GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die stof het miskien al gaan lê oor Groot-Brakrivier se bergfietsroetes, maar organiseerders van die Tuinroete se gewildste feesseisoen-fietswedren besef nou opnuut watter voordele hul harde werk vir die dorp inhou.
Grootbrak Grabadoo het op 31 Desember sy 18de bestaansjaar gevier. Beamptes is vanuit die plaaslike gemeenskap gewerf, terwyl baie inwoners en besighede op een of ander manier kon bydra.
Die geleentheid is 'n hoogs beduidende item op die gebied se somervakansieprogram.
Die mees onlangse byeenkoms het weer eens hordes gelok om deel te neem aan een van vier fietsrenne of 'n pretstap/draf deur die dorp. Die Grabadoo se ekonomiese voordele vir Groot-Brakrivier is noemenswaardig in hierdie dae van landswye ekonomiese uitdagings te midde van die Covid-19-pandemie.
Grabadoo-medestigter Mimi Finestone en roetemeester, Alewijn Dippenaar woon al jare lank in die dorp, en is dus in 'n uitstekende posisie om die gevolge van 'n gehawende toerismebedryf gade te te slaan.
Inligting oor deelnemers – waar hulle woon, waarop hulle geld bestee en die geraamde waarde van hul insae, voorsien wonderlike terugvoering wanneer mens die mees onlangse statistieke kontekstualiseer.
"Ons rekords toon dat slegs 11% van deelnemers van die Mosselbaai-omgewing afkomstig is, met 'n verdere 11% van die Wes-Kaap, en 78% bestaan uit deelnemers vanuit Suid-Afrika se ander agt provinsies," sê Dippenaar.
"Die vraag is nou: het daardie 78% net opgeruk vir 'n genotvolle bergfietsrit, of het hulle 'n daadwerklike sosio-ekonomiese bydrae aan Groot-Brakrivier gemaak?" Hy vertel dat hul nuutste navorsing interessante feite verskaf.
Daar is vasgestel dat sowat 200 motoriste elk omtrent R600 aan brandstof bestee (R120 000); ongeveer 300 deelnemers betaal rofweg R160 per maaltyd by een van die plaaslike eetplekke (R480 000). En wanneer hulle die dorp se winkels besoek, bestee sowat 200 mense gemiddeld R120 per persoon (R240 000).
Onvergeetlike ervarings
Dus is die totale bedrag wat tydens vroeë registrasie en wedloopdag spandeer word sowat R840 000. 'n Welkome gegewe is die feit dat mense na hul tuisdorpe toe terugkeer en hul onvergeetlike ervarings van Grootbrak Grabadoo deel – bemarkingswaarde wat op ten minste R300 000 geraam word.
Plaaslike besteding deur die organiseerders, wat beamptes, tente, toilette, produkte, waterpunte en dies meer insluit, is 'n verdere R100 000. Dit beteken dat die Grabadoo se ekonomiese inspuiting tans ongeveer R1 240-miljoen werd is.
"Die ondersteuning van ons vennote en betrokkenheid van ons gemeenskap is belangrike elemente wat bydra tot die geleentheid se sukses," sê Finestone.
"Mosselbaai-munisipaliteit en Mosselbaai Toerisme speel 'n noodsaaklike rol in die verskaffing van infrastruktuur, byvoorbeeld die sportgronde se gebruik as sentrale punt, en regulering van verkeer. Al hierdie faktore dra by tot 'n gesonde geleentheidsbestuurstelsel en wedersyds-voordelige samewerkingsooreenkomste."
Die Eden-tak van Cycling SA word bedank vir konstruktiewe en positiewe bydraes tot die sukses van die geleentheid. Besoek Grootbrak Grabadoo op Facebook vir verdere besonderhede.
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'