GEORGE NUUS - Die jaarlikse Outeniqua-marathon en halfmarathon word weer Saterdag aangebied met die Fairy Knowe-hotel as die eindpunt van die gewilde byeenkoms.
Die marathon, sekerlik een van die mooistes in die land, lok jaarliks landwyd atlete wat oor die langnaweek na die Tuinroete opruk.
Daar word terselfdertyd ook 'n 10 km- en 3 km-pretloop aangebied.
Vanjaar dien die marathon (42,2 km) ook die ASWD-kampioenskappe sowel as vir 'n kwalifiserende wedloop vir SWD-atlete om aan die SA marathonkampioenskappe in September in Kaapstad deel te neem.
Die marathon is ook een van die laaste wedlope waar atlete kan kwalifiseer om aan die Comrades-marathon deel te neem.
Die marathon begin by die George-sportklub en eindig by die Fairy Knowe-hotel in Wilderness.
Die halfmarathon (21,1 km) begin by die Tuinroetedam en die 10 km- en 3 km-pretlope begin by Fairy Knowe.
Atlete moet dus kennis neem dat die eindpunt vanaf die Nasionale Parkeraad na die Fairy Knowe-hotel verskuif is.
Die wegspringtye is as volg:
- 42,2 km: 07:00.
- 21,1 km: 08:00
- 10 km: 08:00
- 3 km: 09:00
Inskrywings
Voorafinskrywings kan nog vandag (Donderdag 26 April) by Topgear Sport gedoen word en op Vrydag 27 April by die George-sportklub vanaf 16:00 tot 21:30.
Die inskrywingsgeld, wat busvervoer insluit, is as volg:
- 10 km (R65) vir klubatlete en R35 ekstra vir nie-klubatlete.
- 21,1 km (R90 vir klubatlete) en R35 ekstra vir nie-klubatlete.
- 42,2 km (R140 vir klubatlete) en R35 ekstra vir nie-klubatlete.
- 3 km-pretloop (R20).
Die bus vertrek om 05:30 van die Fairy Knowe-hotel na die George-sportklub en om 06:45 na die Tuinroetedam. Ná afloop van die wedloop is daar ook 'n bus terug na die George-sportklub.
Daar is prysgeld beskikbaar vir alle kategoriewenners in die verskillende wedlope. Medaljes word uitgedeel aan almal wat die wedlope binne tyd voltooi. Daar is talle gelukstrekkings by die prysuitdeling.
Vir meer besonderhede bel Willem by 076 440 0832 of Duppie by 084 501 0168.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'