GEORGE NUUS - Die George-span van Stuart Marchant het vanjaar die baie suksesvolle Groot-Brak Classic by die Groot-Brak-rolbalklub gewen deur verskeie spanne van oor 'n wye area die loef af te steek.
Die 24 spanne wat die bane volgepak het, het van sover as Graaff-Reinet, Kirkwood, Ladismith en Stilbaai gereis om die Personal Trust geborgde toernooi by te woon.
As gevolg van die hoeveelheid inskrywings was die formaat van die toernooi krag teen krag.
Na die eerste ronde het die topspanne om die titel meegeding met die res wat in die plaat-afdeling gespeel het.
Die toernooi is oor twee dae beslis en die weer het baie goed saamgespeel.
Tydens die prysuitdeling het die visepresident van Groot-Brak-rolbal, Peter Crawford, die deelnemers sowel as die borge bedank vir hul deelname en die goeie gees waarin die toernooi gespeel is.
Marchant se spanmaats is Marthie Pringle en Dirk en Petro Breedt.
Die naaswenners was die Vista-span van Klein-Brak-rolbalklub met Tom Strydom, Rina Steenkamp, André Smit en Coen van der Westhuijzen.
Die wenners van die plaatkompetisie was 'n span van Groot-Brak-rolbalklub wat uit Karl en Lyn Hancke en Johan en Erna Pretorius bestaan het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'