GEORGE MUURBALNUUS - Die George-muurbalklub het op Saterdag 13 Oktober hul 50ste bestaansjaar met 'n groot makietie gevier.
Die ryk geskiedenis van dié klub dateer terug na die Tweede Wêreldoorlog toe die RAF die eerste muurbalbane in George gebou het as 'n manier om die fiksheid van hul weermagpersoneel te verbeter. Die formele klub is egter eers in 1968 gestig met dr. Matthys Strydom wat as die eerste voorsitter aangewys is.
Die klub het mettertyd geskuif na sy huidige permanente adres by die George-sportklub.
Die klub se bestaansjaarvieringe is bygewoon deur talle oudpresidente en lede en het saamgeval met Internasionale Muurbaldag.
Die eindstryde van die klubkampioen-skappe het ook plaasgevind waarna alle lede 'n heerlike spitbraai saam geniet het na die dag se spel.
Die George-muurbalklub wil graag 'n spesiale woord van dank uitspreek teenoor almal wat die dag moontlik gemaak het, in die besonder die George-munisipaliteit vir hul ondersteuning met die voorafgaande opknap van die sportklub.
Talle oudpresidente van die George-muurbalklub het op Saterdag 13 Oktober dié klub se 50ste bestaansjaarvieringe bygewoon. Van links: Charlie Amm, Gerrie Willer, Sandy Witteveen, Frank Witteveen, Thelma Farrell, Kobus van Wyk en Riaan Potgieter (huidige president).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'