GEORGE NUUS - Die Covid-19-pandemie het die wêreld behoorlik op sy kop gekeer. Ten spyte van dié enorme ontwrigting, is daar talryke verhale van mense wat op kreatiewe en onselfsugtige maniere kaalvuis ingeklim het om weer 'n sprankie hoop te bring.
Een so 'n voorbeeld was die vierstuks fietsryers van George wat onlangs aan Absolute Motion se sesuur-fietsryuitdaging deelgeneem en gehelp het om minstens R30 000 vir haweloses in te samel.
Die vier Georgiete wat die kettings op hul onderskeie erwe laat kraak het, was die pa en seun, Johan en Jaco Jacobs, Hannes Neethling en Zandré Gerber.
Absolute Motion, 'n nasionale fietsry-afrigtingsbesigheid, het dié sesuur-uitdaging van stapel gestuur om fondse in te samel vir Hope Trust, 'n nie-winsgewende organisasie wat ondersteuning aan die Sweetwater-gemeenskap langs Hilton, naby Pietermaritzburg, bied. Dié gemeenskap gaan tydens die grendeltyd onder chroniese voedseltekorte gebuk.
Absolute Motion het op inisiatief van een van sy junior lede fietsryers landwyd aangemoedig om vir dié uitdaging ses uur ononderbroke op hul fietse te trap en terselfdertyd geld in te samel deur donasies van borge en ander welwillende landsburgers.
Die 15-jarige Jaco Jacobs, 'n leerder van Hoërskool Outeniqua, het saam met sy pa meer as 3 000 meter se vertikale klimme op hul erf voltooi, die meeste van al die ryers wat aan die sesuur-fietsryuitdaging deelgeneem het.
Die oorspronklike plan was om net buiteritte te laat kwalifiseer vir die uitdaging, maar daar was so 'n vurige pleidooi deur ryers met klein erwe dat hulle besluit het dat binnenshuise ritte op oefenmasjiene of rollers ook sal kwalifiseer.
Dié nasionale uitdaging het vereis dat ryers vir ses ure in hulle tuine moes trap om te bepaal wie die meeste kilometers kon aflê. Alternatiewelik sou die meeste meters vertikale klimme tydens die erfrit in berekening geneem word.
Meer as 50 fietsryers landwyd het aan die uitdaagrit deelgeneem. Daar was nie inskrywingsfooie nie, maar ryers is aangemoedig om enige bedrag, soos wat hulle kon of wou, te skenk. In tipies eg Suid-Afrikaanse gees het mense mekaar uitgedaag en beloftes van so ver as die VSA, Italië en Dubai is vir skenkings ontvang.
Die twee Jacobse het die beste gevaar met die vertikale klim en in die toegelate ses uur meer as 3 000 m se opdraande in hul tuin baasgeraak.
Johan het aan die George Herald gesê die uitdaagrit was wel vir 'n baie goeie doel, "maar dis nie sommer iets wat ek gou weer sal aanpak nie. Dis goed vir jou moreel, maar die fisieke uitdaging in só 'n beperkte spasie maak jou gedaan."
Hy sê die eerste uur was hy en sy seun, Jaco, nog lekker vars en gemotiveerd en het hulle nogal uitgesien na die lekker uitdaging, maar so halfpad deur die tweede uur was die prentjie nie meer so mooi nie. "Die roete op die erf is maar ongeveer 150 m lank en die bulte so 10-11 meter. Dus, 'n kort roete wat jy oor en oor moet trap."
Dis ruwe terrein wat Hannes Neethling in die sesuur-rit mos baasraak.
Foto: Deidre CloeteNá drie uur kon hulle vir sowat tien minute uitspan om iets te eet en 'n vinnige draai te loop, wat darem effe afwisseling gebring het. Maar ná vier ure in die saal het die eentonige roete sy tol begin eis. "Die warm weer het ons behoorlik laat sweet, maar dis eerder die sielkundige as die fisieke uitdaging wat jou toe gevang het. Ons spiere was toe ook al redelik seer van al die getrappery.
"Ek het net vir Jaco gesê ons moet nou vasbyt en nie boedel oorgee nie. Die keuse was eenvoudig: wil ons dit doen of wil ons uitklim.
"Met seker nog 'n raps meer as 'n uur oor het ek vir Jaco gesê hy kan ophou as hy wil, maar dié 15-jarige leerder van Hoërskool Outeniqua wou nie bes gee nie en het enduit saamgetrap. Maar ons sal nie so iets sommer gou weer saam aanpak nie, dis vir seker."
Neethling sê hy het ook teen die einde met erge krampe gesukkel en hoewel tou opgooi deur sy gedagtes geflits het, het hy die stang vasgebyt en die rit voltooi.
Johan Jacobs en sy seun, Jaco, het onlangs op hul erf aan die Absolute Motion se sesuur-fietsryuitdaging deelgeneem en gehelp om minstens R30 000 vir haweloses in te samel. Foto's: Esmari Jacobs
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'