GEORGE NUUS - Groter en nog beter. Dit is die boodskap van die organiseerders van die George Tens sport- en -leefstylfees wat vanjaar van 15 tot 18 Desember plaasvind.
Meer besonderhede is pas deur die organiseerders bekendgemaak en dit blyk dat daar vanjaar in meer sportsoorte meegeding gaan word.
Dit sluit 10-kode rugby (mans en dames), gholf, netbal, strandvlugbal, raakrugby, veldlope en bergfietswedrenne in.
Ofskoon die feesdorp by Outeniquapark gesetel sal wees, word daar ook meegeding op plekke soos Wilderness (raakrugby en strandvlugbal), Oubaai en Pinnacle Point (gholf).
Die fees, wat in 2019 as slegs 'n rugbyfees begin het, het sedertdien gegroei.
Die oud-Springbok rugbyafrigter en sportadministrateur, Heyneke Meyer, is weer by die reëlings betrokke.
Vanjaar se datum word ook as 'n pluspunt gesien, want daar word geglo dat daar gedurende die tyd meer besoekers in die gebied sal wees. Verlede jaar het dit tussen 2 en 5 Desember plaasgevind. Dit is toe ietwat gekniehalter deur Covid-19-regulasies en toeskouers is net in beperkte getalle toegelaat.
Dirk Wessels, burgemeesterskomiteelid vir finansies, strategiese dienste het Maandag by navraag bevestig dat die George-munisipaliteit weer vanjaar betrokke is. Georg-toerisme is ook vanjaar betrokke.
Wessels het gesê die munisipaliteit verskaf finansiële ondersteuning en logistieke hulp. Hy glo deur meer sportsoorte op die spyskaart te hê sal meer mense betrek word.
Lees meer in Donderdag se George Herald, as ook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'