SPORT NUUS - Verskeie topatlete gaan aan die Outeniqua-rolstoelwedren (OCC) deelneem wat op 15 Februarie plaasvind.
Onder vanjaar se trekpleisters is verskeie vorige wenners en van die atlete wat laat weet het dat hulle op 15 Februarie by die wegspringplek in George sal wees, is Peter West, Stuart McCreadie, Ernst van Dyk, Pieter du Preez, Raphael Botsyo en André Koen.
Hulle het die laaste drie jaar almal goue medaljes in hul onderskeie afdelings gewen.
Zack Rauch-Legward, 'n jong tiener, wat vir jongmense wys dat niks onmoontlik is nie, al is jy in 'n rolstoel, sal ook deelneem.
Alewijn Dippenaar, die geleentheids-direkteur van die OCC 2020, het gesê dat vanjaar se geleentheid beslis by Carpe Diem aangebied gaan word. Dit is verlede jaar by Halfway Toyota in Knysnaweg aangebied. Finaliteit is verlede week verkry tydens 'n vergadering van die reëlingskomitee. Die verskuiwing na 'n ander venue het onlangs ter sprake gekom toe vrae gevra is oor die geskiktheid van verlede jaar se venue.
Volgens Dippenaar is verskeie opsies oorweeg en Carpe Diem is die beste. Carpe Diem het ingestem dat die skool gebruik kan word en reëlings is op koers. Die skool is ideaal, want baie van die atlete gaan daar tuis en die skool is ook gestremdvriendelik.
Dippenaar het gesê meer as 300 inskrywings is al ontvang. Na verwagting sal tussen 800 en 1 000 atlete vanjaar deelneem. Deelnemers kan op 14 Februarie van 08:00 tot 18:00 registreer. Die eerste wedren, die 42,2 km spring die volgende dag om 07:00 weg. Die prysuitdelingseremonie vind om 12:30 plaas.
Die organiseerders doen 'n beroep op sakeondernemings in Yorkstraat om stalletjies buite ondernemings te hê en 'n feestelike atmosfeer te help skep.
Vrywilligers wat bereid is om te help kan die organiseerders kontak by 082 457 5675 of 'n e-pos stuur aan dyndev@mweb.co.za.
Deelnemers en ondersteuners verlede jaar tydens die OCC.
Deelnemers en ondersteuners aan die OCC 2019
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'