GEORGE SPORT NUUS - Eden se jaggeweerskuts het gedurende April in Schweizer-Reneke by Uurpan Lodge aan die SA Ope Jaggeweerskiet 2021 deelgeneem en uitstekend presteer.
Die toernooi het oor twee dae plaasgevind en skuts moes op drie verskillende bane deelneem. Resultate is gebaseer op die punte wat tydens die toernooi op al drie bane behaal is tesame met die skut se jaarpunt.
Eden se Jacques du Plooy van George en Christo Delport van Sedgefield eindig onderskeidelik algeheel tweede en vierde in die ope-afdeling en word beide in die nasionale span opgeneem. Pieter van der Westhuizen van die Noord-Kaap eindig eerste met 'n telling van 815 uit 900.
Du Plooy en Delport volg kort op sy hakke met beide se tellings op 806,4 vir die dag. Niaan Fourie van De Rust is onder die top-12 skuts in die ope-afdeling. Hy eindig in die elfde posisie en word in die SA Presidentspan opgeneem, 'n besondere prestasie as in ag geneem word dat dit sy eerste top-50 bywoning is.
Eden se junior skuts is van links: Erik Zeelie, Marco Marx, Anke Kemp en Estiaan Hassel. Regs is verteenwoordiger van die borge.
Eden se vroue, Anita Butler en Ronel Marx, beide van Mosselbaai, eindig onderskeidelik in die vyfde en sesde posisies in die vroueafdeling en word beide verkies tot die vrouespan wat later vanjaar internasionaal in Namibië gaan meeding.
Die juniors se topskut vir die toernooi is Eden se Erik Zeelie (George), met Marco Marx in tweede posisie, Anke Kemp in die vierde posisie en Estiaan Hassel algeheel sesde. Al drie laasgenoemde skuts is van Mosselbaai.
Freek Zeelie, Jacques du Plooy, Christo Delport en Niaan Fourie het die Eden-mansspan verteenwoordig. Regs is 'n verteenwoordiger van die borge.
Eden se mansspan bestaande uit Jacques du Plooy, Christo Delport, Niaan Fourie en Freek Zeelie (George) is ook gekroon as SA se topveldskietspan gebaseer op die Saterdag se resultate.
Eden spog ook daar met die oudste lid in die vereniging by name Johan Fourie van Mosselbaai wat op 81-jarige ouderdom steeds kompeterend deelneem in die veterane klas.
Eden se vroue het ook puik presteer. Anita Butler (derde van regs) eindig vyfde en Ronel Marx (tweede van regs) eindig sesde.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'