Gallery
GEORGE NUUS - Eden-driekamp het verlede Sondag weer 'n oefenbyeenkoms by die prentjiemooi Fairy Knowe-hotel in Wilderness aangebied in samewerking met Franna Vorster van die Springtide Triathlon Academy.
Slegs atlete van 12 jaar en ouer kon deelneem en die byeenkoms, saam met vorige byeenkomste, is gebruik om atlete te identifiseer wat die Eden-streek van 17-18 Maart by die Suid Afrikaanse Driekampkampioenskappe in Bloemfontein gaan verteenwoordig.
Die senior atlete se wedloop het bestaan uit 750 m-swem, 20 km-fietsry en 5 km-hardloop.
Heelwat ervare atlete asook 'n hele paar nuwelinge het deelgeneem.
In die mansafdeling het JC Visser gewen met Tim Toovey in die tweede plek en Mauritz Janse van Rensburg derde.
In die vroue-afdeling was Mellusca Toovey eerste met Tina van Wyk tweede en Suskia Harris derde.
By die seuns 14-17 jaar, wat saam met die seniors deelgeneem het, het die baie belowende Ian Burger gewen.
Burger was ook in die algehele vierde plek en 'n groot driekamptoekoms word vir hom voorspel.
George Marais was in die tweede plek.
Die seuns 12-13 jaar se afstande was as volg: swem 400 m, fietsry 10 km en hardloop 2,5 km.
Hier was Josua Vorster eerste met Hanno Maritz en Gerbrandt van der Merwe onderskeidelik tweede en derde.
Die Eden span, wat ná afloop van die byeenkoms gekies is, lyk as volg:
- Seuns 12-13 jaar: Josua Vorster en Hanno Maritz.
- Dogters 14-15 jaar: Linèl Engelbrecht.
- Seuns 14-15 jaar: Christiaan Hattingh.
- Seuns 16-17 jaar: Ian Burger.
- Vroue 25-29 jaar: Mellusca Toovey.
- Mans 30-33 jaar: JC Visser, Tim Toovey en Deon de Jager.
- Vroue 35-39 jaar: Eileen Ketterer.
- Mans 50-54 jaar: Derek Smith.
- Vroue 55-59 jaar: Tina van Wyk.
Joshua Vorster het in die seunsafdeling 12-13 jaar koning gekraai.
Volgens Gerhard Liebenberg, voorsitter van Eden-driekamp, is dié sportsoort springlewendig in Eden en word heelwat meer geleenthede, waaronder tweekampbyeen-komste (hardloop en fietsry) vir die koue wintermaande, asook 'n skole-reeks beplan.
Nog driekampnuus is dat twee nuwe klubs by Eden-driekamp aangesluit het: die nuutgestigte Iron Jawed Multisport Club, onder leiding van plaaslike atleet JC Visser, en Laerskool Blanco.
Dit bring die totale aantal geaffilieerde klubs nou te staan op sewe. Enigeen wat belangstel of wil deelneem kan vir Corné Hattingh bel by 083 289 2544 of per e-pos by edentriathlon@gmail.com.
Hou ook gerus Eden Triathlon se Facebookblad dop vir driekampgebeure.
Die jong bulle het in die seunsafdeling 12-13 jaar deelgeneem. Voor van links: Joshua Vorster (wenner), Aiden Ogilvie, Gerbrand van der Merwe (3de) en Hanno Maritz (2de). Agter staan Franna Vorster van die Springtide Triathlon Academy.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'