GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Ná die Grootbrak Boekeblaf Lees- en Skrywersfees se debuutjaar in 2025, is die honde (en die skrywers) weer los in die Tuinroete!
Die fees keer amptelik die naweek van 6 en 7 November terug en beloof om vanjaar ’n selfs nouer band tussen die skrywers en boekeliefhebbers van die Tuinroete te smee, sê die organiseerders.
Op Vrydag 6 November kom genooide gaste vir die feesopening bymekaar.
Lede van die publiek kan dan Saterdag vanaf 09:00 by die NG Kerksaal, Langstraat, Groot-Brakrivier vir ’n opwindende program van gesprekke en musiek aanklop.
Na afloop van elke boekgesprek kry lesers die geleentheid om gesellig met hul gunstelingskrywer en -digter te verkeer.
Daar sal gesprekke oor van hierdie skrywers se heel nuutste boeke wees:
• Hannes Visser (Tussen Asem), Bets Smith (Pompeii), Daniël Lötter (Douwenis en Waar die lammers nie suip nie), Julio Agrella (Zeus van Wyngaardt en die labirinte van monsters), Allen Grootboom (Die vuur huil), Erla Diedericks (Jagspinnekop) en Stef Kruger (Ontrafel).
“Met die musikale aanbiedinge op Vrydag- en Saterdagaand, kleur musieksterre Petronel Baard, Stef Kruger en ander plaaslike kunstenaars vanjaar Groot-Brakrivier se geskiedenis fyn in, en verweef kontreistaaltjies en unieke stories met musiek,” sê die organiseerders.
Skryfkompetisie vir skoolkinders
As deel van die fees se fokus op die ontwikkeling van jong, plaaslike talent, word daar in die weke voor die fees ’n skryfkompetisie vir plaaslike laerskoolleerders gehou met ruim pryse. Lees meer hieroor op die Grootbrak Boekeblaf se Facebook-blad. Die kompetisie sluit op 30 Oktober.
Feeskaartjies
Kaartjies is R70 per skrywersgesprek, of R390 vir ’n dagkaartjie vir al die Saterdaggesprekke. Kaartjies vir Saterdagaand se konsert is R220 (besoekers is welkom om hul eie piekniekmandjie en drinkgoed saam te bring). Kaartjies is aanlyn by Quicket of by die deur beskikbaar.
Program en meer inligting: Grootbrak Boekeblaf se Facebook-blad of www.grootblaf.co.za.
Vorige artikel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’