SPORTNUUS - Die pas afgelope Crawl-bergfietsresies aan die voet van die Sneeuberge sal vir lank onthou word as een van die lekkerste ooit - 'n topklasfees van fietsry, lekker kos, kuier en kaskenades.
Na die Crawl en jaarlikse kerkbasaar verlede jaar oor agtereenvolgende naweke plaasgevind het, is besluit om albei vanjaar op Saterdag 1 April te hou - die regte besluit.
Nie net het die inskrywings vir die Crawl byna verdubbel nie, maar kon besoekers aan dié unieke Karoodorp die beste van sy mense en kultuur beleef.
FOTOGALERY: Crawl-bergfietsresies
Deelnemers het van vêr gekom om te kamp, potjiekos te proe en plaaslik gebroude bier te geniet saam met hul trap deur die natuurskoon.
Klik hier om die Crawl-bergfietsresies te sien
Almal het gesmul aan pannekoek (wat op spoed gebak moes word om by die aanvraag by te bly), Karoolam gekoop en ook Murraysburgers langs die skouterrein se kroegtoonbank leer ken.
Maar natuurlik is daar hard en lekker getrap ook!
Pragtige roete
Die Crawl is een van Suid-Afrika se mooiste 100 km-plus bergfietsroetes en mense wat nog nooit die roete gery het nie, besef nie wat weggesteek is langs die voet van die Sneeuberge nie, of van die plase, kranse en koppies wat die Horseshoe-rivierloop omhels langs die R63 na Graaff-Reinet nie.
Dit is 'n samekoms van alles wat mens wil hê in 'n ordentlike bergfietsresies: Lang oop stukke grondpad om jou bene warm te trap, plaasingange met boomlanings wat jou laat droom van jou eie stukkie grond, landskappe ingekleur met mere en vlaktes, bergreekse wat hoog klouter, rivierkruisings, versteekte doringwoude, ou plaasopstalle en kliprantjies wat jou met op-en-af hale hard laat werk vir die koue Coke aan die einde.
Met die reën wat hierdie jaar gelukkig gedurende die week weggebly het, was toestande effens makliker - al bly dit steeds 'n uitdagende resies.
Die sowat 1 300 m se klim oor 110 km sal mens laat dink dis maklik, maar die kliprantjies en rollende landskap in die derde kwart van die roete het die tonge laat sleep en was daar beslis talle seer bene Sondag op die koffietafel vir TV-kyk.
110 km
Philip de Klerk het hierdie jaar sy 2022-titel suksesvol verdedig in 'n tyd van 4:23:50, maar nie sonder 'n groot geveg nie.
Venter van der Mescht was die hele tyd sy eweknie, met dié twee wat vir die volle 110 km met mekaar gespook het tot by die eindstreep.
Van der Mescht se tyd van 4:23:51 het vir ondersteuners groot opwinding veroorsaak en gesorg vir sekerlik die spannendste Crawl-einde ooit.
Andrew Cherrington van Graaff-Reinet was derde in 'n tyd van 4:32:22 en met hierdie tyd die wenner van die mansveterane.
In die 110 km-vroueresies het Marieke Theron met die louere weggestap in 'n indrukwekkende tyd van 5:38:05, byna 'n driekwartuur vinniger as Zantjie Hugo in tweede plek met 'n tyd van 6:19:20.
50 km
Hierdie jaar kon deelnemers ook 'n splinternuwe 50 km-roete ry. Een wat eintlik so rapsie nader aan 60 km as 50 km was weens die verandering, maar asemrowend mooi en verseker die moeite werd.
Greg Kappers het in 'n tyd van 2:00:57 gesorg vir nog 'n naelskraap einde toe hy vir Gustaf Ittershagen-Strauss met net 5 sekondes klop.
In derde plek was die 12-jarige swerfvalk, Alejandré Nel in 'n tyd van 2:20:02.
Thalita van Zyl het hard getrap om die dames 50 km-resies gemaklik te wen in 'n tyd van 2:33:20, net meer as 10 minute voor Sanmari Pottage (2:43:50) en Christelle Slabbert (2:45:45) in tweede en derde plekke.
Van Zyl was ook in die algemene 12e plek uit 'n totaal van 46 ryers.
30 km
Die mansafdeling van die 30 km-resies, baie gewild onder gesinne en skoolgroepe, is gewen deur Hanré Jordaan (1:08:58) - net 14 jaar oud - met Christiaan Swiegers (1:22:45) tweede en André van Zyl (1:27:30) derde. Lorette Luscombe (1:25:01) was eerste van die vroue met Marina Rubidge (1:30:00) en Anna Bouwer (1:33:30) tweede en derde.
Ons moedig alle Karoo-inwoners aan om die Crawl volgende jaar op julle kalender te sit. Met 'n lang lys verbeteringe en nuwe verrassings wat alreeds beplan word, gaan dit werklik een van SA se topfietsrybestemmings word. Min plekke in die land wys mens so baie pragskoon vanaf 'n saal.
Dankie aan ons borge wat dit moontlik gemaak het om almal te kon huisves by die Crawl en ook sorg dat die byeenkoms groei.
- Seriti Green
- African Clean Energy Developments
- FAL Invest
- SMHART Security
- HiQ Graaff-Reinet
- Sylvester MTB race
Vir al die uitslae besoek www.sneeubergcrawl.co.za of hou die Sneeuberg Crawl se Facebook-blad dop.
Die roete loop deur asemrowende natuurskoon.
In die 110 km-vroueresies het Marieke Theron (links) met die louere weggestap in 'n indrukwekkende tyd van 5:38:05, byna 'n driekwartuur vinniger as Zantjie Hugo (regs) in tweede plek met 'n tyd van 6:19:20. Foto's: Jan-Hendrik Swiegers
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’