GEORGE NUUS - Die Covid-19-pandemie se tentakels is besig om kleiner sportkodes, soos tweekamp, stadigaan dood te wurg. Riglyne wat die nasionale departement van sport, kuns en kultuur op 20 Junie vir Vlak 3 uitgereik het, laat die rooi ligte behoorlik flikker.
Benewens tweekamp kan sportsoorte soos swem, tennis, atletiek en drie- en vyfkamp nie hul aktiwiteite hervat voordat hulle aan 'n horde riglyne voldoen nie.
Van die riglyne wat die departement vir kontak- en nie-kontaksport uitgereik het, is as volg:
• Voordat enige oefening/wedstryd/toernooi/byeenkoms kan plaasvind, moet sportliggame die verantwoordelike nasionale minister skriftelik in kennis stel wanneer dit 'n aanvang neem vergesel van die protokolplanne soos vervat in die riglyne. Dit moet binne 14 dae ná die publikasie van die riglyne ingedien word. Die minister sal dan besluit (apply his mind) of aan al die riglyne voldoen word - en dit kan nogal 'n tydjie neem.
• Die privaat toetsing van alle atlete teen ongeveer R800 per atleet.
• Dan die wagtydperk vir die uitslae, wat waarskynlik nie 'n prioriteit by die laboratoriums sal wees nie.
• Skoonmaak en ontsmetting van sportbyeenkomsplekke. In die geval van tweekamp behels dit twee: 'n atletiekbaan en swembad. Dit moet voor elke oefening of byeenkoms geskied.
• Die aanstelling van 'n nakomingsbeampte om toe te sien dat protokolle nagekom word.
• Die voorbereiding en byhou van 'n register van alle deelnemers, beamptes, noodpersoneel, ens.
• Die aankoop van siftingstoerusting teen ekstra koste.
• Ontwikkeling van 'n vervoerplan.
• Voorsiening van ontsmettingsmiddels en maskers vir elke oefening of byeenkoms.
• Beplanning rondom verkope en voedselvoorsiening.
• Ontwikkeling van 'n bepaalde afrigtingsmetodologie vir elke spesifieke sportsoort.
• Alternatiewe byeenkomsplekke as die bestaande plek weens besmetting onbruikbaar raak.
• Die identifisering en keuse van 'n isolasie-area of lokaal.
Dave van der Walt, operasionele bestuurder van Eden-tweekamp, sê die regulasies vir Covid-19 gaan kleiner sportkodes finansieel knak. Hy sê die implikasies om net een Eden-tweekampbyeenkoms hier aan te bied, skets 'n donker prentjie. "Die enigste kunsbaan en bruikbare Olimpiese standaardswembad is op Oudtshoorn. Atlete van Plettenbergbaai, Riversdal, Knysna, George, Mosselbaai en selfs verder weg moet soontoe reis. Sommige atlete sal sowat 360 km per byeenkoms moet aflê."
Die geskatte kosteberaming vir 'n byeenkoms met 200 atlete sal 'n aardige bedrag beloop:
• Vervoer van atlete (neem in ag dat skoolbussies met 16 sitplekke net 70% vol mag wees).
• Huur van munisipale fasiliteite soos die atletiekbaan en swembad (R1 800).
• Huur van mediese personeel en 'n ambulans (R3 000).
• Toetsing van atlete @ R250 per atleet (200 atlete = R50 000).
• Laboratoriumkoste van toetse @ R800 per atleet (200 atlete = R160 000).
• Skoonmaak van plekke soos atletiekbaan en swembad met geboue (R5 500 - R7 000).
• Aanstel en betaling van 'n nakomingsbeampte (R1 000).
• Aanskaf/huur van siftingstoerusting (een termometer kos R1 800).
• Ontsmettingsmiddels (sowat R400).
• Maskers (200 x R20 = R4 000)
Daar is nog vele ander uitgawes wat nie in berekening gebring is nie.
Van der Walt reken die geskatte direkte kostes kan sowat R200 000 beloop terwyl die geskatte indirekte koste vir 'n atleet of sy ouers kan raak aan R210 000.
Hy sê tweekamp spesifiek staar 'n klomp uitdagings in die gesig. "Skolesport vir 2020 is afgestel en 85% van hul deelnemers is skoolleerders. Dit plaas ons in 'n onuithoudbare situasie."
Indien 'n atleet of beampte se koors te hoog toets by die baan, moet dié persoon in isolasie geplaas word waarna die departement gesondheid gekontak moet word om oor te neem. "Hierdie bykomende kostes gaan die registrasiegelde van atlete geweldig hoog opjaag en ook ’n beduidende styging in die administrasiekoste van provinsies hê."
Van der Walt sê Eden bied ongeveer vier ligabyeenkomste, twee proewebyeenkoste, een kampioenskap en een interprovinsiale byeenkoms jaarliks aan.
"Borge het feitlik opgedroog en daardie verlies aan inkomste gaan ook 'n groot rol speel. Die volhoubaarheid van tweekamp, soos baie ander sportkodes, is ongetwyfeld in die gedrang. Sou van die regulasies nie gou verslap word nie, is ek bevrees wag daar 'n donker toekoms op die kleiner sportkodes."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'