ROLBAL NUUS - Danksy 'n uitstekende oorwinning oor Ou Rollers het Butz & Gutz vir Redline uit die eerste plek geboender en loop nou voor in die Assupol Besigheidliga van die Outeniqua-rolbalklub.
Redline het na die eerste ronde voor-geloop en het in die tweede ronde teen Kommaweer Stoffeerders te staan gekom. Hulle het die stryd gewen, maar nie goed genoeg gevaar om die voortou te behou nie.
Accidental Bowlers, wat vir Ricoh geklop het, het in die tweede plek ingeskuif en kom nou vanaand (Donderdag) teen Butz & Gutz te staan. Dit is egter nog vroeg in die kompetisie en enige van die voorste groep spanne kan met 'n goeie oorwinning die eerste plek inneem.
Die punteverskil tussen die eerste vyf spanne is so klein dat nie een span veilig kan voel nie en deurgaans fokus sal moet behou.
Die wedstryde begin om 18:00 op die bane van Outeniqua-rolbalklub in Airwayweg, Heatherpark, en belangstellendes is welkom om die wedstryde by te woon. Die klub het ligte etes en 'n kontantkroeg beskikbaar.
Foto: Jannie Meyer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'