TUINROETE | KAROO SPORTNUUS - Meiringspoort se halfmarathon is sekerlik een van Lloyd Bosman se gunsteling wedlope - verál ná hy op Saterdag 8 Oktober sy 2018 rekord van 1:03:57 verpletter het met skrams meer as twee minute.
Bosman, 'n lid van die Nedbank-atletiekklub, het verlede naweek die 21,1 km-wedloop in 'n tyd van 1:01:36 voltooi.
Dié oorwinning maak dit die vyfde agtereenvolgende jaar dat hy De Rust se Optimum Meiringspoort-halfmarathon wen.
Bosman meen hy gaan van meet af aan net sterker en vinniger word en beoog om nog vir baie lank Meiringspoort se kampioen te wees.
Sy twee oefenmaats, albei ook Nedbank-atlete, Godwin Heyns (1:05:39) en Bernardo Fredericks (1:06:21), was onderskeidelik tweede en derde.
Vrouerekord verpletter
Nog 'n rekord het gespat in die vroue se halfmarathon wat deur Hanlie Botha van Born 2 Run-atletiekklub (Oos-Londen), met 'n tyd van 1:18:55 gewen is. Die vorige rekord is in 2010 deur die plaaslike Nedbank-atleet, Melissa van Rensburg, opgestel met 'n tyd van 1:20:21. Dit is die eerste keer dat Botha, 'n dieetkundige van Oos-Londen, deur die poort gehardloop het. Sy sê dit was 'n onbeskryflike mooi ervaring en sy en haar man, 'n kranige atleet wat ook aan die wedloop deelgeneem het, sal beslis volgende jaar terug wees saam met nog atlete uit hul omgewing.
Volgens een van die organiseerders, Bernard Delport, het 3 800 atlete vanoor Suid-Afrika en selfs Nederland, ingeskryf. Hiervan het 2 800 geregistreer, 1 710 atlete het die halfmarathon voltooi en 884 het die 12,5 km-wedloop voltooi. "Ons sien uit na volgende jaar se wedloop wat op 14 Oktober plaasvind. Talle atlete wat vanjaar deelgeneem het, het gesê hulle is volgende jaar weer terug en bring nog atlete saam. Dié jaar was die 28ste en dit word elke jaar net beter," sê hy.
Melissa van Rensburg (3de). Foto: nedbankrunningclub.co.za
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'