GEORGE NUUS - Die Boksombende het amok gemaak in die eindstryd van die Stadler & Swart en Outeniqua Plumbing-besigheidsliga van die Outeniqua-rolbalklub deur die kampioenskapskroon te buit.
Ruwacon het voorgeloop met die aanvang van die eindronde, maar die bende het ander planne gehad en op briljante wyse by hulle verbygeskuif en uiteindelik genoeg ligapunte ingesamel om as kampioene gekroon te word.
Span Frikkie, wat na die eerste ronde van die reeks voorgeloop en deurlopend goed gevaar het, het ook goed gevaar en die derde plek ingeneem met Ou Rollers vierde. Wild Rovers was vyfde, Kommaweer Stoffeerders sesde, Talisman Tigers sewende, Finovo agste, Butz & Gutz negende en Stadler & Swart tiende.
Hierdie was die mees suksesvolle reeks tot nog toe met 36 spanne wat meegeding het. Daar was ook ander spanne wat wou deelneem, maar die drie bane was vol.
Die verwagting is dat daar nog meer spanne aan die volgende reeks, wat in September begin, sal wil deelneem, maar net 'n maksimum van 36 kan gehuisves word. Dit is dus raadsaam om vroegtydig in te skryf.
Die besigheidsliga is 'n baie sosiale geleentheid en die meeste ondernemings wend dit aan as 'n spanbou geleentheid. Elke span lok gewoonlik ook verskeie ondersteuners en kollegas om hul aan te moedig.
Die naaswenners, Ruwacon, se spanlede met hul pryse. Heel regs is André Swart wat die pryse oorhandig het.
Span Frikkie wat die derde plek ingeneem het, saam met een van die hoofborge, André Swart, derde van links.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'