GEORGE NUUS - Kaiden Steyn (15) van George het gekwalifiseer vir die CrossFit-spele, wat in Augustus in Madison (Wisconsin) in Amerika plaasvind.
Kaiden het die besondere prestasie behaal toe hy twee weke gelede aan die halfeindronde van die CrossFit-spele deelgeneem het.
Jan Fourie, 'n biokinetikus, en ook eienaar en hoofafrigter van Wings Elite Fitness, sê by die gimnasium word funksionele fiksheid gedoen. Dit is nie sogenaamde liggamsbou (body building) nie en sluit in: Olympic Weight Lifting (snatch, clean, jerk), gimnastiek (liggaamsgewigoefeninge soos opstootoptrek, touklim) en hoë-intensiteit kardiovaskulêre oefeninge soos hardloop, fietsry, roei, touspring.
Van die jong atlete neem deel aan CrossFit, 'The Sport of Fitness'.
Volgens Fourie het Kaiden as 11-jarige by hom begin oefen. "Hy het van jongs af baie goeie vorm en tegniek getoon, met baie potensiaal in die sport."
Vanjaar het hy ingeskryf vir die Internasionale CrossFit-seisoen, in die kategorie vir seuns 14 tot 15 jaar. Dit het in Maart begin met die CrossFit Ope, 'n wêreldwye kompetisie oor drie weke wat 'n deelnemer by sy eie gimnasium kan doen onder toesig van geregistreerde “beoordelaars”.
Kaiden het toe 33ste in die wêreld geëindig en 1ste in Afrika, wat beteken het dat hy kwalifiseer vir die kwarteindrondes.
In die kwarteindrondes het Kaiden 19de ter wêreld geëindig. Die top-30 kwalifiseer vir die halfeindronde. Dit is waaraan Kaiden die afgelope naweek (27 tot 29 Mei) deelgeneem het. Uit die halfeindronde kwalifiseer slegs die top-10 ter wêreld vir die CrossFit-spele, waarheen Kaiden in Augustus op pad is.
"Kaiden het 10de plek gekry en daarmee gekwalifiseer."
Daar gaan die seuns meeding vir die titel, Fittest on Earth, in hul onderskeie ouderdomsgroepe.
Volgens Fourie is dit 'n ongelooflike prestasie. "George kan regtig trots wees op hierdie seun wat ons gaan verteenwoordig by ‘n internasionale sportgeleentheid wat net vir die bestes ter wêreld is. Dit het baie harde werk gekos om daar te kom en Kaiden verdien dit."
Hy het Kaiden beskryf as nederig en geduldig. Hy het 'n goeie temperament. "Kaiden sal 'n goeie ambassadeur vir Suid-Afrika in die buiteland wees."
Kaiden Steyn (15) regs saam met Jan Fourie, 'n biokinetikus, eienaar en hoofafrigter van Wings Elite Fitness.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'