TUINROETE NUUS - Die 27ste interprovinsiale Oudtshoorn / Highgate-tweekampbyeenkoms vind op 3 Februarie plaas.
Sover bekend, is daar nie nog 'n byeenkoms met so 'n lang onafgebroke geskiedenis van aanbieding in die SWD nie.
Op hierdie dag spook sewe provinsies (WP, Boland, SWD, OP, Vrystaat, Grens en Griekwas) dit weer uit in die hitte van die Klein-Karoo. Verlede jaar is nie minder nie as 10 byeenkomsrekords en ses nuwe SA rekords opgestel.
'n Totaal van 512 atlete ('n 35% groei sedert 2016) het in 2017 in ideale weersomstandighede mekaar die stryd aangesê en tweekamp uit die boonste rakke opgelewer.
Dave van der Walt, woordvoerder vir die byeenkoms, sê vanjaar word nog meer inskrywings verwag.
Daar is nou 'n o/8 ouderdomsgroep (swem: 25m; hardloop: 400m), asook 'n skole-kategorie waar van die topskole van die provinsies meeding.
Die wenners in beide afdelings gaan met die Hisense-wisseltrofee wegstap.
Van die bekendes in die sportwêreld wat hulle teenwoordigheid aangedui het, is die Wes-Kaapse minister van sport, Anroux Marais, Blackie Swart (president: SA Tweekamp), Colan Sylvester (uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn), regter Chris Jansen (SA Tweekamp ere-president), Archie Markgraaff (SA Tweekamp ere-president), Desmond Speelman (voorsitter: Eden-sportraad), Johan Keller (Highgate), Len Symington, Gerhard Louwrens en provinsiale voorsitters.
Van Suid-Afrika se toptweekampatlete wat mekaar die stryd gaan aansê, is Mike Forbes (Grens), Johan Windt, Chris van Wyk, Tanya Osborne, Bernard Zaayman, Bianca le Grange, Herman Spangenberg, Marius-Hugo en Gustav Schlechter (almal SWD), Retief Ochse, Kelly Vroon, Jeandré Swanepoel, Roger Bezuidenhout en Derek Oehley (almal WP), Ilse Beukman, Liezel Wessels, Jannie Briers-Louw en Daniel Malan (Boland).
Junior atlete in aksie tydens die 2017 Highgate-tweekampbyeenkoms.
Van der Walt verduidelik dat provinsies hierdie byeenkoms gebruik om hulle spanne vir die SA Kampioenskappe, wat vanjaar 31 Maart in die Pretoria plaasvind, te skaaf.
Highgate Volstruis-vertoonplaas (ankerborg van SWD Tweekamp) en Kango grotte, bied weer spesiale aansporingpryse aan vir alle wenners.
Die ander groot borge is die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport Oudtshoorn Ford en die Oudtshoorn-munisipaliteit.
"Dit maak dit naas die SA kampioenskappe die grootste tweekampbyeenkoms in Suid-Afrika.
"Die spankompetisie gaan vanjaar groot uitdagings van WP, Boland en OP vereis. Elke provinsiale span word ook toegelaat om ‘n A-span, B-span en ontwikkelingspan in te skryf.
Dit is een van die min byeenkomste waar die ontwikkelingsatleet ook tot sy reg kom.
Daar word weer vanjaar vir gestremdes atlete voorsiening gemaak. Hulle baanitem bestaan uit 400m en swem 50m.
Die Tweekamp vind Saterdag (opening 07:30, hardloop begin 08:00) by die De Jager-sportkompleks plaas. Die swemitems vind na die baanitems by die NA Smit-swembad plaas.
Toegang is gratis.
Vir enige navrae kontak Dave van der Walt (082 773 4901).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'