Gallery
ROLBAL NUUS - Stilbaai Rolbalklub se Classic het weereens spanne van oral oor gelok. Nie minder nie as 14 klubs het met 26 spanne opgeruk Stilbaai toe en in die gure weer van Vrydag en Saterdag 15 en 16 September die twee bane aan die brand gespeel in die twaalfde Classic-toernooi.
Uit die Kaap het Old Oak van Bellville gekom met twee spanne en daar was selfs 'n span van Langebaan aan die Weskus.
Die Klein Karoo is verteenwoordig deur die span van Ladismith en Jeffreysbaai het uit die Oos-Kaap gekom.
Die Tuinroete het Witsand, Swellendam, Riversdal, Stilbaai, Hartenbos, Grootbrak, George, Knysna, Plettenbergbaai en Leisure Isle van Plettenbergbaai opgelewer. Almal met een ding in gemeen gehad en dit was om ou vriendskapsbande weer op te tel en om nuwes te smee, terwyl meedoënloos meegeding word om te wen.
FOTOGALERY: Stilbaai Classic lok 26 spanne
Dup Van Renen, president van Stilbaai Rolbalklub, het dan ook in sy verwelkoming die vriende binne hul rolbalfamilie hier in Stilbaai verwelkom en gesê dat elke speler van die spel die samesyn en Stilbaai se gasvryheid terdeë moet geniet en met goeie herinneringe aan die Stilbaai Classic huiswaarts keer.
Aan die einde van die twee dae se spel het die span van Jeffreysbaai, met Hennie Slabbert as die skip, as wenners uit die stryd getree en prysgeld van meer as R6 000 ontvang.
Die span van Jeffreysbaai het die Stilbaai Classic gewen. Van links: Hennie Slabbert, Dalena Muller, Petro Toerien, Ronell Greeff en Prof Stadler van Personal Trust (borg).
In die tweede plek het die span van Stilbaai, Piet Robbertse, Tinus Oelofse, Johan Voss en Magda Robbertse, weggestap met meer as R4 000 se pryse.
Johan Roestorff, Wessel Potgieter, Paula Swanepoel en Johann Snyman, ook van Stilbaai, was in die derde plek en hulle het met meer as R2 400 se pryse huistoe gegaan.
Die ruimhartige borge het dan ook seker gemaak dat daar pryse vir die eerste 10 spanne was, maar soos gewoonlik is die houtlepel uitgedeel aan die span wat laaste klaargemaak het en hierdie jaar het dit gegaan aan Nico Uys en sy Witsand span.
Die naaswenners vandie Stilbaai Classic. Van links: Stilbaai se Piet Robbertse, Tinus Oelofse (agter), Magda Robbertse, Johan Voss en Prof Stadler van Personal Trust.
Derde was Stilbaai se Wessel Potgieter, Paula Swanepoel, Johann Snyman, Prof Stadler van Personal Trust en Johann Roestorff.
Só rol mens 'n bal. Foto's: Johan Victor
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’