GEORGE GHOLF NUUS - Die SPW Kwagga-gholfdag is weer vanjaar op 30 November by Fancourt ten bate van die Kwagga Trust aangebied. Die hoofborg was vir die tweede agtereenvolgende jaar Sanlam Private Wealth. Lynn Schroeder BMW, Shell Kraaibosch en Hollard was die ander ondersteunende borge wat die dag moontlik gemaak het.
Die dag was vol opwinding en verwagtinge met ‘n moontlike ‘hole-in-one’ wat 'n gelukkige speler 'n volle R100 000 in die sak sou kon bring! Dié wonderlike uitdaging sal beslis weer aangebied moet word, sodat daar 'n wenner kan wees! 'n Baie groot dankie vir die hulp en ondersteuning van die ouerkomitee met die reëlings en aanbieding van die Kwagga-gholfdag. Hulle is, Lehanti Cronjé, Marian Balt, Minette Nortjé, Johnny en Crystal Visser, Elna Coetzee, Maxie Pretorius, Marieke Vermaak en Hendrik Smit.
Aan die besighede wat bowwe geborg het, pryse vir spelers geskenk het of items geskenk het vir die veiling, 'n besondere woord van dank en waardering.
Die spelers het die geleentheid baie lojaal ondersteun en 'n groot groep oud-Kwaggas was deel hiervan. Verskeie Kwagga-gholfouers het ook die dag ondersteun.
Die afslaers en oud-Kwaggas, Louis van Rensburg en Daniel van Schalkwyk, van Van Rensburgs Auctions, het hul uitstekend van hul taak gekwyt. Die gewildste item was die jagpakket wat deur die oud-Kwagga, Ryan Albutt van Oryx Trail Game Lodge & Safaris geskenk is. Die gelukkige koper was Danie du Toit van DIGICOMMS.
Die Kwagga Trust, asook Hoërskool Outeniqua, die enigste begunstigde van die trust, spreek graag sy opregte dankbaarheid teenoor die hoofborg, Sanlam Private Wealth, asook alle ondersteuners van die gholfdag uit.
Louis van Rensburg.
Miguel Jimenez.
Smart Office Connexion Wenners.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'