GEORGE NUUS - Die laaste Kwagga-gholfdag van 2017, ten bate van die Kwagga Trust, het op 30 November by Fancourt plaasgevind.
Volgens die organiseerder en bemarker van Hoërskool Outeniqua, het die geleentheid groot belangstelling gelok en is uitstekend deur die gemeenskap ondersteun.
Die hoofborg, Vincent Vermaak, van Sanlam Private Wealth, is deur die skoolhoof van Hoërskool Outeniqua, Christo Vorster, geloof vir hul bydrae en ondersteuning tot die geleentheid se sukses.
Spelers van sover as Gauteng tot Willowmore is getrakteer met warm Kwagga-gasvryheid met die optrede van die talentvolle Kwagga Jazz Band, 'n pragtige gholfbaan en heerlike somerweer.
Met geen einde aan Outeniqua se trotse skoonhede en talente nie, is die dag perfek afgerond met die teenwoordigheid van Monique Best, Mej. SA Tiener 2017.
Die voorsitter van die Kwagga Trust, Johann Venter, dra sy opregte dank oor aan Fancourt se klubkaptein, Gerrie Cronje, alle borge, lojale skenkers van pryse en spelers wat die geleentheid heelhartiglik ondersteun het.
Die vierbal van Canon wat aan die Kwagga-gholfdag deelgeneem het, is voor van links: Zane Pretorius (Canon), Hendrik Kriek (Savanna Cookware), Thinus van Rensburg (Philren Makelaars) en Marcel de Ridder (Canon). Agter is Wynne Strydom (trustee van die Kwagga Trust) en Ronel Lamprecht (bemarker van Hoërskool Outeniqua).
Die Kwagga Jazz Band, onder die bekwame leiding van Lynette Pieterse, musiekonderwyseres van Outeniqua, tree ook graag as ambassadeurs van Outeniqua by funksies op.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'