GEORGE NUUS - Nie eers reën kon Sondag 23 Oktober die geesdrif demp vir die eindstryde van die twee vlakkiekrieketwedstryde wat in Delvillepark gespeel is nie.
In die plaatfinaal het Parkdene Royals teen die Parkdene Challengers gespeel. Uiteindelik het die Parkdene Challengers koning gekraai. In die Cup-finaal het Conville United kragte gemeet teen die Convent Bulldogs.
Die Covent Bulldogs was te sterk en het gewen.
Vlakkiekrieketwedstryde word op dieselfde formaat as T20-wedstryde beslis met goeie kwaliteit tennisballe. Dit word onder die vaandel van die George Rural Sports Development (GRSD) instansie gespeel en Sondag is die hoogtepunt van die seisoen gevier.
'n Groot skare het Sondag saamgetrek en die geleentheid is begin met die sing van die volkslied. Toe die eerste bal kort na 11:00 geboul is, was daar groot afwagting.
Beide wedstryde het vir naelbyt onder die ondersteuners gesorg.
In 'n stadium is die wedstryd in die Cup-finaal vir 'n kort rukkie gestop as gevolg van reën, maar dit het nie ondersteuners afgeskrik nie en hulle het gewag tot die wedstryd later hervat is. Dié wedstryd veral het vir spanningsvolle oomblikke gesorg en die Bulldogs het dit eers in die 19e boulbeurt beklink toe hulle twee sesse geslaan het. Die Bulldogs het met twee paaltjies gewen.
Sammy Vorster, voorsitter van die GRSD, het Maandag gesê dit was die meeste toeskouers ooit wat wedstryde in die eindstryde bygewoon het.
Daar was dubbel soveel toeskouers as by die vorige eindstryde. Die wedstryde is in 'n goeie gees gespeel en die spelers het hulself goed gedra.
Die seevierende wenspan in die Cup-finaal, Convent Bulldogs.
Daar is verskeie redes vir die gewildheid van die soort krieket. Dit sluit in dat families betrokke is. Van die kinders sien op na die spelers. Dit gee ook hoop vir spelers. Dit gee hulle iets om hul mee besig te hou en na uit te sien.
Elke span is verantwoordelik vir gemeenskapsprojekte in hul gebiede en moet terugploeg in die gemeenskappe. Die afgelope seisoen was daar minder projekte, maar daar word beoog om in seisoen vyf spanne te verplig om die projekte in hul gemeenskappe aan te pak.
'n Finale besluit is nog nie geneem wanneer seisoen vyf gaan begin en 'n aankondiging sal later gemaak word.
FOTOGALERY: Vlakkiekrieketwedstryde in Delvillepark
Vorster het alle borge en veral Topsave bedank wat koeldrank en aartappelskyfies (chips) vir die kinders gegee het.
Volgens Vorster is die GRSD 'n gemeenskapsorganisasie en geen politiek word gedryf in die GRSD.
Politieke partye mag egter deur middel borgskappe vir spanne of die GRSD betrokke raak, maar het geen sê oor die bestuur of besluite wat geneem word. Die GRSD is 'n nie-winsgewende organisasie.
Brendan Adams, burgemeesters-komiteelid vir sport van die George-stadsraad, het gesê die geleentheid was 'n baie groot sukses. Die munisipaliteit steun vlakkiekrieket 100%. Die plan is om nog spanne van Blanco en Thembalethu te betrek.
Conville United wat in die eindstryd van die Cup-finaal verloor het.
Sammy Vorster, (regs) voorsitter van die GRSD en El Girvin, vise-voorsitter,
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'