Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Seisoen 5 van die Vlakkiekrieketreeks het Sondag 4 Junie op 'n hoogtepunt afgesluit toe die drie eindstryde plaasgevind het. 'n Geesdriftige en groot skare het reeds van vroeg na Seaview Park, Pacaltsdorp (agter Hypersave) opgeruk.
Selfs Patricia de Lille, minister van toerisme en Peter de Villiers, voormalige afrigter van die Springbokke en deesdae lid van die Wes-Kaapse wetgewer, het in 'n stadium 'n draai gemaak.
Daar is in drie afdelings meegeding. In die eindstryd van die GRSD-trofee het die Rosedale Tigers teen Parkdene Challengers gespeel en uiteindelik het die Rosedale Tigers koning gekraai.
In die Shield-eindstryd het Pacs Rebels kragte met die Blanco Warriors gemeet. Die Blanco Warriors het as die wenners uit die stryd getree.
In die Plate-eindstryd was dit die Seaview Kings teen die Strangers 11. Seaview Kings het gewen.
Vlakkiekrieketwedstryde word op dieselfde formaat as T20-wedstryde beslis met goeie kwaliteit tennisballe. Ouderdomme van spelers wissel tussen 15 en 50 jaar.
Sammy Vorster oorhandig die beker aan die Rosedale Tigers.
Sammy Vorster, voorsitter van die GRSD, (George Rural Sports Develop-ment), onder wie se vaandel die wedstryde plaasvind, het Dinsdag 6 Junie gesê dit was 'n groot sukses.
Dit was 'n baie mooi eindstryd wat tot die laaste boulbeurt op 'n mespunt gebalanseer is. Hy het die ses spanne gelukgewens wat in die eindrondes gespeel het. "Dit was pragtige, opwindende krieket."
VIDEO: Patricia de Lille, minister van toerisme kuier by Vlakkiekrieket
Benewens krieket speel is daar ook lekkernye en sop aan kinders en volwassenes uitgedeel.
Hy het De Lille en De Villiers bedank wat tyd afgestaan het om 'n draai te maak. Hy het ook die George-munisipaliteit bedank asook borge en individue.
Die borge was:
- BMW George
- Top Gear
- Raadslid Roxaan Vorster
- Red Lounge
- Enrico Appolis(oom Bul)
- Raadslid Virgill Gericke
- Roslin Saptoe
- Gavin Scheepers
- Raadslid Sedric Smart
- David Ryck (Fisheries Hypersave)
Seisoen 6
Beplanning vir seisoen 6 is aan die gang en begin op 13 Augustus. Inskrywings het Maandag 5 Junie geopen en na verwagting sal meer as 12 spanne daaraan deelneem.
Vir enige navrae kontak Vorster by 078 703 1020 of Luwatlyn Jacobs by 067 787 5731.
Volgens Vorster is hulle reeds in 'n gevorderde stadium met beplanning vir 'n T10- jeugdagkompetisie wat op 16 Junie sal plaasvind. Alle spanne word genooi om deel te neem. 'n Span van Kaapstad gaan waarskynlik ook deelneem.
Die Blanco Warriors wat die Shield-kompetisie gewen het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’