Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Afgesien van 'n paar tegniese aspekte en besonderhede oor finansiering wat bevestig moet word, gaan SWD-krieket na alle waarskynlikheid van Oudtshoorn na George skuif.
Dit volg nadat die George-stadsraad tydens 'n raadsvergadering op 30 Maart besluit het dat in beginsel goedkeuring verleen word dat SWD-krieket die geriewe by Rooirivierrif kan huur.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, 'n woordvoerder van die George-stadsraad, sal die nodige openbare deelname prosesse nou plaasvind soos vereis deur wetgewing.
SWD-krieket is reeds daarvan in kennis gestel. Verdere kontak sal plaasvind oor die uitkoms van die openbare deelname proses.
Albertus Kennedy, uitvoerende hoof van SWD-krieket, het Dinsdag 18 April, aan George Herald gesê dat die raad van direkteure van SWD-krieket reeds in Maart 2019 'n besluit geneem het om die skuif van die hoofkwartier te ondersoek.
Hierdie besluit is 'n maand later deur die klubs op 'n lede vergadering sonder 'n teenstem bekragtig. Die proses het begin en rolspelers se insette is geformuleer.
Kennedy, het op 9 Desember 2019 die eerste aanbieding oor die aangeleentheid aan die burgemeesterskomitee van die George-munisipaliteit gedoen.
'n Taakspan is daarna aangestel, maar in Maart 2020 het die Covid-19-pandemie die hele proses tot stilstand gebring.
Volgens Kennedy het die projek in Oktober 2021 nuwe momentum gekry toe 'n afvaardiging van SWD-krieket en Krieket SA, wat die hoof- uitvoerende beampte, Pholetsi Moseki en die direkteur van krieket, Graeme Smith, ingesluit het, George-burgemeester, Leon van Wyk, ontmoet het.
Die prosesse is gevolg en op 30 Maart het die raad die besluit goedgekeur.
Kennedy het gesê die fasiliteit wat ontwikkel gaan word is by Rooirivierrif. "Ons wil 'n topklas fasiliteit in die Suid-Kaap vestig en wil planne in plek sit om in 2027, wanneer SA die Krieketwêreldbeker aanbied, opwarmingswedstryde in George te speel.
"Die Suid-Afrikaanse krieketbase is opgewonde oor die besluit. George se ekonomiese omgewing was die dryfveer agter die besluit."
VIDEO: Hier wil SWD Krieket vestig
Hy het benadruk dat die fasiliteit in Oudtshoorn steeds deur SWD gebruik gaan word. "Ons het dit oor die jare (sedert die vestiging van die REC-krieketstadion in 2004) opgebou. SWD-krieket het oor die jare 'n beduidende impak op die ekonomie van Oudtshoorn gehad en groot blootstelling via direkte TV-dekking aan die dorp gegee."
Brendan Adams, burgemeesterskomiteelid vir sport, het gesê George verwelkom SWD-krieket in die stad.
"Ons is besig om George in die sportmekka van Suid-Afrika te ontwikkel. George is besig om teen 'n verskriklike tempo te ontwikkel."
Hy het egter bygevoeg dat begrotingstekorte die groei kniehalter. "Ons sit met die begroting van 'n dorp, maar ons is 'n stad."
Die bestaande krieketveld by Rooirivierrif. Foto: Eugene Gunning
Die bestaande krieketveld by Rooirivierrif. Foto: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’