GEORGE NUUS - Plaaslike regspraktisyns en ouditeurs van Moore Southern Cape het tydens 'n vriendskaplike krieketwedstryd kragte gemeet en geld vir George-nagskuiling ingesamel.
Die geleentheid het op 12 Augustus by die George-krieketklub plaasgevind. Die wedstryd was 'n skouspel van kameraadskap en geesdrif.
Die ouditeurs het die loot gewen en gekies om eerste te kolf. Vir eens was dit nie die prokureurs se regsargumente wat die opponente uitgeboul het nie, maar eerder die lyn en lengte van die aflewerings. Die ouditeurs kon egter onder druk koelkop bly en het vir 24.3 van die 25 boulbeurte gekolf en 118 lopies aangeteken.
Die onus rus toe op die prokureurs om die 118 lopies te jaag in 25 boulbeurte. Die ouditeurs het die prokureurs getoets met hulle boulwerk, maar daar kon nie veel fout gevind word nie.
Die prokureurs het nie die wedstryd onnodig uitgerek nie en kon die lopies in 19 boulbeurte aanteken, vir die verlies van net twee paaltjies.
Daar is voor die wedstryd onderneem dat die wenners sal bepaal aan watter verdienstelike organisasie die geld geskenk sal word. Die waarde van die donasie is bepaal deur 'n spesifieke bedrag per lopie, wydloper, foutbal en paaltjie toe te ken.
Die prokureurs het gekies om George-nagskuiling die begunstigde te maak. Donasies is gemaak deur Moore Southern Cape Ingelyf, Haycock Prokureurs, A Chimes Van Wyk Ingelyf, Jansen & Samson Prokureurs en Oosthuizen Marais & Pretorius Ingelyf.
Die spanne bedank George-krieketklub vir die gebruik van die fasiliteite en vir Yolande Prins-Van Aswegen, die skeidsregter van die wedstryd.
Plaaslike regslui se krieketspan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’