GEORGE KRIEKETNUUS - As 'n jong krieketspeler het hy van meet af aan sy kolf die praatwerk laat doen en die SWD op laer- en hoërskoolvlak met onderskeiding verteenwoordig.
Johandré Barnard, 'n oudleerder van Laerskool George-Suid en Hoërskool Outeniqua, het pas sy vlerke gesprei om oorsee vir ses maande sy kriekettalent by die beroepsklub Bingley net buite Manchester verder te slyp. En sommer met die intrap het hy in sy eerste kolfbeurt in dié mededingende eerste liga vir sy klub 'n stewige 78 lopies gemoker.
Johandré het na skool vir drie jaar B.Com aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom gaan studeer en toe na George teruggekeer om by NMU krieket af te rig en te speel.
Hy was ook kaptein vir George in die SWD Premierliga en het by die Child Active-sportakademie van 2014-2019 junior krieketspelers onder hande geneem. Sy verbintenis by dié puik sportakademie strek oor 20 jaar waar hy eers as speler afrigting gekry het en toe as hulpafrigter betrokke geraak het.
Johandré het ook die SWD op senior vlak verteenwoordig.
As sy eerste kolfbeurt op Engelse bodem enigsins 'n aanduiding is van wat voorlê, gaan die boulers èn veldwerkers in dié liga meer hardloop as staan.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'