KRIEKET NUUS - Die gewildheid waarmee vlakkiekrieket toeneem is opnuut bewys toe die Rosemoor Royal Strikers onlangs 'n toer na Worcester onderneem het.
Die span het daar gemengde welslae behaal. Hy het drie wedstryde gespeel en ongelukkig net een gewen, maar dit het die span nie afgeskrik nie.
Die span is vol moed dat hulle die bordjies gaan verhang wanneer die span van Worcester, George in Oktober besoek.
Duan Joseph, bestuurder van die Rosemoor Royal Strikers, het aan George Herald gesê die wedstryde in Worcester het in toestande plaasgevind wat nie aan hulle bekend is nie. Dit was baie winderig. Die Worcester-span is ook baie ervare in daardie toestande en speel al baie jare vlakkiekrieket.
Wanneer Worcester se span George in Oktober besoek is daar 'n wisseltrofee op die spel. Die plan is dat die spanne twee keer per jaar teen mekaar speel.
Volgens Joseph is vlakkiekrieket presies wat dit sê. "Dit is krieket vir die mense, in die hartjie van ons woongebiede waar niemand hoef te reis om hul seuns, broers, neefs of selfs vaders te sien speel nie."
Daar is basiese verskille met gewone krieket. Daar is nie iets soos byvoorbeeld geen balle tydens 'n boulbeurt nie. As 'n bal oorgeboul moet word, word geen punte weggeneem nie. Daar word net van een kant geboul en bestaan uit 20 boulbeurte.
"Dit neem geweldig toe in gewildheid. In seisoen een was daar slegs vyf spanne en aan die einde van seisoen drie was daar 18 spanne. Met die koms van seisoen vier in Julie, verwag ons sowat 28 spanne uit George. Dit word gespeel in gebiede soos byvoorbeeld soos Borcherds, Conville, Parkdene, Rosemoor, Pacaltsdorp en Proteapark.
Rosemoor Royal Strikers bestaan al 'n jaar en in die jaar het die span in een eindstryd en een halfeindstryd in drie verskillende toernooie gespeel.
Die doel van die toernooi is om te help om jongmense van die negatiewe dinge in die strate in die minderbevoorregte gebiede te hou. Voorts om hulle te laat voel, al is dit net gedeeltelik dat krieket regtig 'n verskil kan maak.
Hy het namens die span al die rolspelers in George bedank wat die toer na Worcester moontlik gemaak het. Asook vir Worcester Vlakkie Cricket wat uit hul pad uit gegaan het om hul tuis te laat voel tydens die besoek.
Die Rosemoor Royal Strikers
Die Rosemoor Royal Strikers
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'