Sewe plaaslike laerskoolspanne van Denneoord, Outeniqua, Glenwood House, Knysna en Blanco het deelgeneem.
Die toernooi sou aanvanklik by die Laerskool Blanco aangebied word, maar oornagreën het Blanco se krieketveld onspeelbaar gemaak en Outeniqua het toe hul fasiliteite goedgunstiglik aangebied.
Die Pro 10-toernooi is 'n vinniger formaat van die spel en vereis akkurate boul-, veld- en kolfwerk van elke speler. Elkeen van die sewe spanne het hul man gestaan en behalwe vir 'n paar skitterende individuele vertonings het 'n hele paar wedstryde vir naelbyt-eindes gesorg en is oorwinnings eers in die laaste beurt behaal.
Die beste individuele kolfvertoning is deur die veelsydige Braam van Huyssteen van Laerskool Blanco gelewer. Hy het 132 lopies in twee beurte aangeteken waarvan sy onoorwonne 85 in sy eerste beurt ongetwyfeld die kollig gesteel het.
Ruan Joubert van Laerskool Outeniqua is aangewys as die veelsydigste speler terwyl Ronan Flaherty van Glenwood House as die veelsydigste veldwerker uitgestaan het.
Sas du Plessis, skoolhoof van Blanco, was agterna vol lof vir die ondersteuning van die spelers, onderwysers, afrigters en veral ouers wat in groot getalle opgedaag het om die toernooi te ondersteun.
"Sonder die hoofborg, Tekkie Town, se ondersteuning sou ons ongetwyfeld nie so 'n suksesvolle toernooi kon aanbied nie. Dis ook verblydend dat skole en ouers inisiatiewe soos hierdie ondersteun, want elke skool is afhanklik van bydraes uit die gemeenskap om dié tipe blootstelling vir die kinders te verseker.
"Dankie aan elkeen teenwoordig met die prysuitdeling ná afloop van die toernooi. Ouers kan trots wees op die afrigters wat sorg dat die spelers goed afgerig is en dat goeie sportmangees en karaktervorming ontwikkel word.
Sien nog foto's hier.
Denneoord se o.13A-span wat aan die Laerskool Blanco Tekkie Town Pro 10-kriekettoternooi deelgeneem het. Voor van links: Kyle, Tyrique Louw, Niel Nortier en JP Meiring. Meiring hou die gebreekte kolf was ná 'n opslagbal van 'n Laerskool Blanco-bouler. Agter sit Shawn Adidwa, Franco Smit en Vusumsi Bala.
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'