KRIEKETNUUS - 'n Meesterklas kolfvertoning deur die Cape Cobras se Pieter Malan (106 lopies van 114 balle) was grotendeels daarvoor verantwoordelik dat die Warriors Sondag op die Oudtshoorn-sportterrein met 31 lopies volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode die onderspit gedelf het.
Malan, wat verlede maand sy debuut vir die Protea-toetsspan gemaak het, was pure klas en sy arsenaal houe wat hy uitgestal het tydens sy beurt was voorwaar 'n lus vir die oog om te aanskou.
Malan se beurt het altesaam 9 viere en 2 sesse ingesluit. Die Cobras het die loot gewen en het 274 lopies vir die verlies van 6 paaltjies op die telbord na 49 boulbeurte geplaas.
Sondag se wedstryd was natuurlik vir Oudtshoorn se toeskouers ook 'n geleentheid om hul grootmaakkind wat deesdae vir die Warriors speel, Glenton Stuurman (bouler), in aksie te sien. Stuurman het voorheen vir die SWD gespeel en is verlede seisoen 'n kontrak deur die Warriors aangebied. Hy het nie teleurgestel nie en het met sy derde bal in die Warriors se tweede boulbeurt 'n paaltjie platgetrek toe hy Hanno Kotze been voor paaltjie betrap uit.
Zubayr Hamza, wat ook verlede maand sy Protea-kleure verwerf het, het goed vir sy 21 lopies vertoon voordat hy deur Onke Nyaku na 'n liederlike misverstand met Malan uitgehardloop is. Hamza se paaltjie het die linkshandige kolwer, Simon Khomari na die penne gebring, maar dié kon slegs 12 lopies vermag voordat hy deur Dyllan Matthews skoongeboul is. Met die telling op 102/3 het sake op hierdie stadium ietwat beroerd vir die Cobras gelyk.
Jason Smith het 76 lopies van slegs 86 balle gemoker en is goed deur die veelsydige George Linde (31 lopies van 14 balle) ondersteun wat die Cobras tot 'n uitdagende 274 lopies aangedryf het. Die Warriors se toporde kolwers kon in hul kolfbeurt net nie aan die gang kom nie met die jong snelbouler, Thando Ntini (4/36) wat amok met die bal gesaai het. Ntini is die seun van die voormalige legendariese Protea-bouler, Makhaya Ntini. Die Warriors se oorblywende kolwers kon slegs 245 (almal uit) in 47 boulbeurte vermag.
Dié toeskouers en hond het hulle gate uitgeniet.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo nuus'