GEORGE NUUS - Op Vrydag 26 Januarie lei alle paaie na die sentrale sakekern van George waar Rainbow-atletiekklub in samewerking met Top Gear Sport die jaarlikse 10 km-aandwedloop en 5 km-pretloop aanbied.
Hierdie jaar se 10 km beloof om in 'n titaniese stryd te ontaard aangesien die topatlete van Atletiek SWD asook besoekende atlete mekaar die stryd gaan aansê.
Atlete skud hul vere reg vir die nuwe jaar. Sommige van ons voorste atlete is reeds in topvorm.
Veral in die mansafdeling kan uitgesien word na 'n interessante stryd tussen die ikoon, Lloyd Bosman, en Selwyn Matthews, oefenmaats van Nedbank-atletiekklub. Die langverwagte 29 min 30 sek kan moontlik verbeter word.
Die 10 km-wedloop sal hierdie jaar oor 'n nuwe roete aangebied word wat meer gelyk is as in die verlede. Daar word met verwagting uitgesien na die wedloop, wat jaarliks in 'n feestelike atmosfeer aangebied word.
Die 10 km-wedloop skop af om 18:00 en die 5 km om 18:10. Die begin- en eindpunt is by Top Gear Sport.
In die vroueafdeling word verwag dat Mellisa van Rensburg van Nedbank-atletiekklub haar baasskap in die 10 km sal bewys. Daar word ook uitgesien na die deelname van opkomende junior atlete. Hoërskool- en laerskoolleerders word ook genooi om deel te neem aan die 5 km-pretloop wat beloof om nuwe talent te identifiseer.
Die inskrywingsgeld is R75 vir die 10 km-wedloop en R30 vir die 5 km-pretloop.
Atlete wat tydelike nommers koop, moet 'n ekstra R45 opdok.
Stappers en rolstoelatlete welkom
Stappers en rolstoelatlete is meer as welkom om aan wedlope deel te neem.
Atlete sal nie toegelaat word om oorfone gedurende die wedloop te dra nie, soos neergelê in die reëls van Atletiek Suid-Afrika. Soos gebruiklik beloof Ters Gilliomee, eienaar van Top Gear Sport, dat daar groot gelukstrekkings sal wees.
Volgens die president van Rainbow-atletiekklub, Sidwell Oktober, en Elmo Botha, voorsitter van die klub, sien hulle uit daarna om wedlope van hoogstaande gehalte aan te bied.
Hulle nooi dus alle klubs, skole, professionele, fikse, onfikse, geleentheidsatlete en stappers om komende Vrydagaand in groot getalle te kom deelneem. Registrasie begin reeds om 16:00.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’