Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - "Dit sal lekker wees om die regte Kilimanjaro in Tanzanië uit te hardloop," het Julius de Clercq, 'n inwoner van George, gesê nadat hy korte mette gemaak het met die hoogte van Afrika se hoogste berg, sommer hier teen die Outeniquaberge.
Die 26-jarige De Clercq het Vrydag-oggend, 9 April, omstreeks 01:30 aan die voet van die Outeniquaberge aangetree en teen 16:00 was hy klaar nadat hy ses keer die berg tot by George-piek uit is.
Kilimanjaro, 5 895 meter bo seevlak, is Afrika se hoogste berg en die hoogste vrystaande berg in die wêreld.
De Clercq se poging was in dieselfde tyd as drie ander Georgiete, Lodelia Oosthuizen (36), Jacques Mouton (42) en Eddie Mouton (47) wat dieselfde roete gebruik het om 'n hele paar keer na George-piek te hardloop. Daardeur het hulle dieselfde hoogte as 'Everest'` bereik. Hulle is agt keer die berg uit.
De Clercq het gesê hy het op skool fiets gery, maar dit het te veel tyd in beslag geneem. Hy het later begin hardloop en by veldwedlope (trail-running) betrokke geraak. Dit het sin gemaak want hy het 'n passie vir die natuur en hy hou daarvan om buite te wees.
Hy en Jacques Mouton-hulle oefen saam en toe hy hoor hulle maak planne om 'Everest' aan te durf het hy gedink dis die ideale geleentheid om 'Kilimanjaro' aan te durf.
Kyk 'n video hieronder:
Dit was 'n paar weke gelede en hy was fiks. Dit was dus nie nodig om spesiale voorbereidings te tref nie.
Volgens De Clercq het hy die eerste twee keer alleen opgehardloop. Dit was nog donker en die weer was goed. Dit het hom gemiddeld sowat twee ure geneem om op en af te hardloop. Tussen die dele kon hy 'n bietjie rus.
Van sy vriende, wat van die dele saam gehardloop het, het hom aangemoedig en dit het baie gehelp.
Julius de Clercq, 'n inwoner van George, wat 'Kilimanjaro' sommer hier teen die Outeniquaberge uitgehardloop het.
Toe hy die vierde keer opgaan, het hy amper tou opgegooi, omdat hy erge krampe begin kry het, maar hy het vasgebyt en deurgedruk.
In die geheel gesien was dit fisies moeilik. Hy het verwag dit gaan moeilik wees, maar uiteindelik was dit moeiliker as wat hy verwag het.
Die spesifieke geleentheid het hom opnuut geleer om vas te byt. Dit was 'n ook les vir die lewe. As dit soms swaar gaan, moet mens vasbyt en aanhou. Hy het ook geleer hoe belangrik dit is om mense naby jou te hou en dit het sy vriendskapsbande versterk. "Dis wonderlik om op 'n vriend se knoppie te kan druk en hy is daar."
Sy deelname was ook vir 'n goeie doel. Hy het R200 betaal as 'n soort deelnemersfooi wat gaan na 4You, 'n organisasie wat Bybels, versprei.
Hy het al verskeie sulke wedlope gehardloop soos onder meer die Otter-wedloop. In 'n sin was die Otter makliker want daar hardloop jy van een punt na 'n volgende, terwyl vir 'Kilimanjaro' moes hy 'n paar keer tot by George-piek en terughardloop.
Julius de Clercq, 'n inwoner van George, wat "Kilimanjaro" sommer hier teen teen die Outeniquaberge uitgehardloop het. In die verre agtergrond is George Piek sigbaar waarteen hy ses keer uitgehardloop het. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'