Spanleiers wat leiding neem van die byeenkoms: Fanie Conradie (geleentheidsdirekteur), Chantelle Liddell (byeenkomsdirekteur) en Neville Myburgh (geleentheidsdirekteur).
GEORGE NUUS - Chantelle Liddell, direkteur van die George-parkrun daag alle Georgiete uit om die 100ste George-parkrun byeenkoms hierdie Saterdag 5 Maart in die Botaniese Tuin in Caledonstraat by te woon.
Die George-parkrun, die eerste in die Suid-Kaap het op 5 April 2014 ‘n aanvang geneem met die grootste spontane opkoms nog in Suid-Afrika.
By die bekendstelling het 369 deelnemers hul debuut gemaak. Ultra-marathonatleet Bruce Fordyce, was teenwoordig en het saam met die organiseerders Chantelle Liddell, Neville Myburgh en Fanie Conradie die deelnemers aan die parkrun-protokol bekend gestel.
Die plaaslike parkrun is deur die tydskrif, Womans Health, as een van die top-5 mooiste roetes wêreldwyd aangewys en het internasionaal reeds naam gemaak. Besoekers van oor die wêreld het al die parkrun bygewoon en het groot lof vir die natuurskoon en goeie organisasie.
Die parkrun word weekliks in die Botaniese Tuin in Caledonstraat aangebied. Parkrun is ‘n internasionale beweging wat gesondheid en leefstyl bevorder, vind altyd om 08:00 plaas, dek ‘n afstand van 5 km en is altyd gratis.
Die publiek word genooi om deel te word van die beweging.