GEORGE NUUS - Die jaarlikse Elroy Gelant Pacaltsdorp-aandwedloop word op Donderdag 27 Desember deur die Rainbow-atletiekklub aangebied.
Daar is twee roetes, oor 4 km en 8 km, waaruit atlete kan kies. Albei begin en eindig by die verkeersdepartement in Missionstraat in Pacaltsdorp. Atlete moet verkieslik wit T-hemde dra.
Die registrasie kan vanaf 14:00 tot 17:55 by die verkeersdepartement gedoen word en die wedlope begin om 18:00.
Die eerste 500 atlete ontvang medaljes en die eerste 50 deelnemers wat die 8 km voltooi sal gratis T-hemde kry.
Dit kos R30 om aan die 4 km-wedloop deel te neem en R50 vir die 8 km-wedloop.
George se twee Olimpiese atlete, die middelafstandatleet Elroy Gelant en die stapper Anél Oosthuizen, gaan saam met die Blitsbok Dewald Human 'n motiveringspraatjie lewer tussen 15:00 en 17:00. Hulle sal deur die bekende sportadministrateur Abrie de Swardt bygestaan word. Alle atlete en hul afrigters is welkom om die praatjie gratis by te woon.
Hierdie groep verkeersbeamptes gaan tydens die jaarlikse Elroy Gelant Pacaltsdorp-aandwedloop aan diens wees om die veiligheid van die atlete te verseker. Links agter staan Sidwell Oktober van die Rainbow-atletiekklub, wat die aandwedloop organiseer. Foto: Deidré Cloete
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'