GEORGE ATLETIEKNUUS - Die jaarlikse Outeniqua-marathon (42,2 km) en halfmarathon (21,1 km) word Saterdag aangebied.
Die wedlope is een van die hoogtepunte op die padhardloopkalender van Atletiek SWD en lok baie besoekers na George. Daar word terselfdertyd ook 'n 10 km-wedloop aangebied.
Stappers is welkom om aan die 21,1 km en 10 km deel te neem.
Die jaarlikse Outeniqua-marathon, wat deur baie atlete as 'n oefenlopie vir die Comrades gebruik word, word vanjaar later aangebied met dié dat die Twee Oseane se datum ook vorentoe geskuif het.
Dus sal die Outeniqua-marathon nie as 'n kwalifiserende wedloop vir die Comrades in aanmerking geneem kan word nie. Daar is vanjaar 'n paar aanpassings gemaak.
Die eindpunt het geskuif na die Wildernesss Commanage oorkant die Wilderness-hotel. Al drie wedlope eindig daar.
Die wegspringtye en plekke van die drie wedlope is as volg:
- 42,2 km - 07:00 by die George-sportklub in Langenhovenweg.
- 21,1 km - 08:00 by die Tuinroete-dam.
- 10 km - 0800 by die Wilderness Commanage.
Laatslapers kan vir al drie wedlope inskryf op Vrydagaand 3 Mei by die George-tennisklub in Langenhovenweg vanaf 16:00 tot 21:00.
Atlete wat aan die 10 km deelneem, kan nog Saterdagoggend inskryf in Wilderness by die beginpunt.
Atlete van veral buite die provinsie moet by die George-tennisklub aanmeld om tydhou-apparate te kry en marathonatlete moet ook hul wedloopnommers daar kom afhaal.
Die inskrywingsgeld is as volg:
- 42,2 km R150; 21,1 km R90 en die 10 km R65.
Die verskillende kategoriewenners ontvang prysgeld en alle atlete wat die wedlope binne die bepaalde tyd voltooi sal medaljes ontvang. Gelukstrekkings word gedoen by die prysuitdeling om 12:45 gedoen.
Daar is ook kosstalletjies met een van die borge, Spur, wat burgers te koop sal aanbied.
Vir meer inligting bel Chandré by 072 644 1142.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'