GEORGE NUUS - Outeniqua Marathon wat eerskomende naweek plaasvind, het 'n lekker hupstootjie ontvang met 'n tjek van R50 000 geskenk deur George-munisipaliteit.
Burgemeester Leon van Wyk het die tjek aan Duppie du Preez, president van Outeniqua Harriers, oorhanding.
Die marathon word jaarliks deur Outeniqua Harriers aangebied en vind eerskomende Saterdag, 30 April plaas. Volgens Du Preez word dié wedloop al vir meer as 30 jaar gehou en word dit beskou as een van die heel mooiste wedlope in Suid-Afrika.
Drie wedlope
Die wedloop bestaan uit drie afsonderlike wedlope. Die 42,2 km marathon begin by die George Sportklub om 07:00. 'n Gedeelte van die marathon beweeg om die Tuinroetedam, verby die Nelson Mandela Universiteit, op met die Sewe Passe na Whitesweg, waarna die hardlopers 'n asemrowende uitsig oor die see en Wildernessmeer het voor die eindpunt by die Wilderness meent, die oop grasperk oorkant die Wilderness Hotel.
Die halfmarathon van 21,1 km begin by die Tuinroetedam om 08:00 en die 10 km wedloop begin by die Wilderness meent om 08:00. Al die wedlope eindig by die Wilderness meent.
Inskrywings kan nog Vrydagaand 29 April vanaf 16:00 tot 21:00 by die George Sportklub in Langenhovenweg gedoen word. Vir navrae bel Eileen de Jager by 084 404 2695 of Esmé Boshoff by 084 499 7753.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'